Wallabies verras die Argentynse Poemas

Australia-rugby-players-c-006[1]Australië het vir ‘n effense verrassing gesorg toe hulle sewe drieë ingeryg het om die moedige span van Argentinië Sondagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) op die Gigante de Arroyito-stadion in Rosario met 54-17 te klop in die laaste wedstryd van vanjaar se Castle Rugbykampioenskap.

Verrassing, ja, want ‘n paar weke gelede het die Pumas hulle byna geklop in Perth, toe die Wallabies gelukkig was om met 14-13 te wen.

Dit was die wedstryd wat die eienaar van vanjaar se houtlepel in die Rugbykampioenskap sou bepaal, maar ‘n mens het tog vooraf gewonder of die twee spanne se afrigters hul manne sou kon motiveer om hierdie wedstryd darem naastenby as ‘n skouspel te laat afspeel. Nege drieë later het almal geweet wat die antwoord op dié vraag is.

Australië het sommer in die eerste vyf minute gewys hulle stel beslis nie belang om deur die Suid-Amerikaners getroef te word op die punteleer nie. Hulle het volspoed afgeskop en binne vier minute was die heelagter Israel Folau oor vir sy span se eerste drie.

Die Pumas het gou herstel en vyf minute later het hulle gewys dat hulle selfs sonder hul staatmaker-vaskopstut, Juan Figallo, oor ‘n monster van ‘n skrum beskik. Hulle het die Aussies vyf meter van hul doellyn af aan flarde geskrum en na die vierde keer wat die Aussies die skrum laat val het, is loskopstut James Slipper met ‘n geelkaart gestraf. Ironies genoeg kon Juan Manuel Leguizamon daarna die bal nie ordentlik agter die skrum beheer nie en Australië se wakker flank, Michael Hooper, het daarmee weggebreek om die situasie te red.

Tien minute voor rustyd was dit die Pumas se beurt om met veertien man te speel toe hul flank, Pablo Matera, in ’n desperate poging om ‘n drie te keer, ‘n onwettige duikslag uitgevoer het.

Anders as die Pumas het die Wallabies deeglik gebruik gemaak van hul ekstraman-situasie en vyf minute voor rustyd is Adam Ashley-Cooper in die hoek oor na goeie spel deur Israel Folau.

Skaars ‘n minuut later het Folau weer gewys waarom hy as ‘n baie spesiale rugbyspeler beskou word toe hy ‘n hele spul Pumas met briljante voetwerk geklop het en onder die pale gaan druk het.

Voor die rustydfluitjie het die Pumas se gevaarlike buitesenter, Marcelo Bosch, egter gewys dat hy self kan toor met sy voete. Hy het drie Aussies na lug laat gryp met ‘n swenk en ‘n systap en sonder dat ‘n hand op hom gelê is, het hy oorgeval vir sy drie. Matera se geelkaart het dus gesorg vir baie opwinding en aksie met drie drieë in tien minute.

Net soos die eerste helfte, het die Aussies die tweede skof teen ‘n stewige pas begin en binne twee minute het Israel Folau oorgedraf vir sy driekuns.

Die Pumas wou egter nie sommer oorgee nie. Hulle het die spel begin rek en 10 minute later is die klein skrumskakel Martin Landajo langs die pale oor.  Om sake vir die Aussies te vererger is hul flank, Rob Simmons, kort daarna vir tien minute van die veld af ná ‘n geelkaart weens ‘n gevaarlike en onwettige duikslag. Die Suid-Amerikaners kon egter vir ‘n tweede keer nie enige resultate wys op die telbord uit hierdie geleentheid nie.

Nadat hy die heel aand gevaarlik gelyk het met vlymskerp breekslae, het die Aussies se linkervleuel, Joe Tomane, halfpad deur die tweede helfte weer so gemaak. Hierdie keer het hy egter vir die hele Argentynse agterlyn hakskene gewys in ‘n puik lopie dwarsoor die veld om in die regterhoek te druk.

Hoewel die Pumas hard probeer het om terug te veg, het die Aussies hul momentum behou en vyf minute voor die einde is Benn Robinson oor na goeie dryfspel van sy mede-voorspelers. Twee minute voor die eindfluitjie was dit die plaasvervanger Bernard Foley wat vir oulaas die sout ingevryf het met ‘n langafstand-drie na roekelose spel van die Pumas, meters van hul doellyn af.

Die Aussies het dus gewys hulle kan nooit afgeskryf word nie.  Na ‘n swak reeks tot dusver het hulle teruggebons om die reeks af te sluit met hul grootste telling nóg in hierdie toernooi.

Puntemakers:

Argentinië (Pumas): 17. Drieë: Marcelo Bosch, Martin Landajo.  Doelskoppe: Nicolas Sanchez (2).  Strafdoele: Nicolas Sanchez (1)

Australië (Wallabies): 54. Drieë: Israel Folau (3), Adam Ashley-Cooper, Joe Tomane, Benn Robinson, Bernard Foley.  Doelskoppe: Christian Leali’ifano (2), Quade Cooper (1), Strafdoele: Christian Leali’ifano (2), Quade Cooper (1), Bernard Foley (2).

Spanne:

ARGENTINIë (PUMAS): Juan Martin Hernandez, Horacio Agulla, Marcelo Bosch, Felipe Contepomi, Juan Imhoff, Nicolas Sanchez, Martin Landajo, Juan Manuel Leguizamon, Pablo Matera, Juan Fernandez Lobbe (kaptein), Patricio Albacete, Julio Farias Cabello, Juan Pablo Orlandi, Eusebio Guinazu, Marcos Ayerza. Plaasvervangers:  Agustin Creevy, Nahuel Lobo, Matias Diaz, Manuel Carizza, Benjamin Macome, Tomas Cubelli, Santiago Fernandez, Lucas Gonzalez Amorosino.

AUSTRALIë (WALLABIES):  Israel Folau, Adam Ashley-Cooper, Tevita Kuridrani, Christian Leali’ifano, Joe Tomane, Quade Cooper, Will Genia; Ben Mowen, Michael Hooper, Scott Fardy, James Horwill (kaptein), Rob Simmons, Ben Alexander, Stephen Moore, James Slipper. Plaasvervangers: Saia Fainga’a, Benn Robinson, Sekope Kepu, Sitaleki Timani, Ben McCalman, Nic White, Matt Toomua, Bernard Foley.

Skeidsregter: Wayne Barnes (Engeland) Assistent skeidsregters: Jaco Peyper (Suid-Afrika), Leighton Hodges (Wallis) TV skeidsregter: Ben Skeen (Nieu Seeland)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.