Wallabies volg ander met ervare manne

Matt Giteau (Foto: blog-rct.com)

Matt Giteau (Foto: blog-rct.com)

Soos die Springbokke, die All Blacks, Wallis en in mindere mate Engeland en Frankryk, het die Wallabies se afrigter Michael Cheika ook `n aantal ouer manne met ervaring in die oog vir die Wêreldbekertoernooi.

Met net vier wedstryde oor voor die wêreld se vernaamste rugbytoernooi wat oor twee maande in Engeland begin, het Cheika die senter Matt Giteau, losskakel Quade Cooper, dié se skakelmaat Will Genia en Drew Mitchell in sy groep van 23 ingesluit vir Saterdag se toets in Brisbane teen die Springbokke.

Die kerngedagte is ervaring. Die Wallaby-groep is ook gelaai met toetskapteins. Benewens Stephen Moore wat die span ongetwyfeld in die WB sal aanvoer as hy nie beseer word nie, is daar die flanke Michael Hooper en Dave Pocock, James Horwill en Genia wat al vir die Wallabies voorgedraf het – en ook nie net vir een of twee toetse elk nie.

Dis manne met harde baard. Horwill en Pocock is op die bank.

Giteau, wat vir Toulon in dié klub se segetog vanjaar en sedert 2011 gespeel het, is baie opgewonde om weer die twee skakel-spanmaats aan sy binnekant te hê. Die Bokke se afrigter Heyneke Meyer beskou Giteau as `n gevaarspeler vir die Bokke.

Hy is onder wêreldrugby se toptien verdieners (sowat R540 000 per maand, oftewel  6,5 miljoen per jaar), sal tydens die WBP 33 word en het 92 toets op sy kerfstok.

Cooper, bekend vir sy streke met die bal in die hand en Giteau, `n sterk, slim speler wat vier jaar laas toetsrugby gespeel het, sal die Bokke beslis besig hou.

Hoewel Cooper en Genia saam vir die Reds gespeel het – beserings het hulle geleenthede om saam te speel beperk  – het hulle in 2013 laas saam in `n toets uitgedraf.

Die span –

15 Israel Folau, 14 Adam Ashley-Cooper, 13 Tevita Kuridrani, 12 Matt Giteau, 11 Rob Horne, 10 Quade Cooper, 9 Will Genia, 8 Scott Higginbotham, 7 Michael Hooper, 6 Scott Fardy, 5 Rob Simmons, 4 Will Skelton, 3 Sekope Kepu, 2 Stephen Moore (kaptein), 1 James Slipper. Bank: 16 Tatafu Polota-Nau, 17 Scott Sio, 18 Greg Holmes, 19 James Horwill, 20 David Pocock, 21 Nick Phipps, 22 Matt Toomua, 23 Drew Mitchell

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.