Wallabies wen in Perth

james horwill

Die Poemas is steeds segeloos sedert hulle laas jaar in dié gesogte reeks begin meeding het, hoewel hulle die groot kanonne reeds telkemale skrik gemaak het. Hulle het verlede week moedig baklei en 13-28 teen die All Blacks verloor terwyl hulle ook met slegs 17-22 teen die Springbokke in Mendoza die knie moes buig.

Die wedstryd was ’n taamlik saai affêre vol foute weens die reën en wind wat spel bemoeilik het. Daar is slegs twee drieë gedruk – een deur elke span – en soos die telling aandui, kon die Poemas hierdie een gewen het.

Die Wallabyskakelpaar, Nic White en Quade Cooper, het heelwat in die eerste helfte geskop en die Aussieverdedigers het knaende druk op die ontvangers van die skoppe gesit.  Die Wallabies het die balbesit en gebiedsvoordeel oorheers, maar kon aanvanklik nie hierdie oorheersing in veel punte omskep nie.

Die Poemas se losskakel, Nicolás Sánchez, het die eerste punte met ’n strafdoel in die 7de minuut aangeteken: 3-0. Christian Leali’ifano het sake feitlik oombliklik gelyk gemaak met ’n strafdoel en minute later die Wallabies vir die eerste keer met nog ’n strafdoel laat voorloop: 6-3.

Die enigste drie van die eerste helte is deur Israel Folau gedruk toe hy oorgewriemel het nadat die Wallabies die bal naby die Poemadoellyn wyd laat loop het. Leali’ifano het die doelskop gemis, maar in die doodsnikke van die eerste helfte die rustydtelling met ’n strafdoel 14-3 gemaak.

Die Poemas het die spel oorheers en het talle strafskoppe daardeur afgedwing. Nie een van hierdie strafskoppe het egter hul telling opgeskuif nie. Hulle het aangeval toe hulle eerder pale toe moes skop en Sánchez se korrel was nie sekuur toe hulle wel besluit het om te skop nie.

Die Poemas het die skroewe in die laaste kwart van die wedstryd begin aandraai. Eers het Sánchez in die 60ste minuut ’n strafdoel aangeteken. Juan Manuel Leguizamon, die Poema-agtsteman wat verlede week teen die All Blacks in Hamilton en teen die Bokke in Mendoza drieë gedruk het, het in die 65ste minuut oorgebars vir sy span se drie. Sánchez het met die doelskop geslaag: 14-13.

Daarna het die Wallabies, waarskynlik met die gedagte van ’n eerste nederlaag teen die Poemas sedert 1997 in hul agterkoppe, weer druk toegepas en in die Argentyne se halfgebied geboer. Verskeie strafskoppe is aan hulle toegeken, maar Leali’Ifano het telkens misluk in die winderige toestande.

Puntemakers:

Australië:

Drieë: Folau

Strafdoele: Leali’ifano (3)

Argentinië:

Drieë: Leguizamon

Strafdoele:  Sánchez (2)

Doelskoppe:  Sánchez

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.