Wallabies wil All Black-spook troef

Julian Savea

Julian Savea

Dis ’n paradoks: Verlede week se nat gelykop-Bledisloestryd in Sydney tussen die Wallabies en All Blacks het almal hoog en droog gelaat. Die groot verwagting is nou dat die stryd op Eden Park daarvoor moet vergoed.

Die Wallabies het natuurlik rede om teleurgesteld te voel. Die kaptein, Michael Cooper, het ook tereg gesê hulle het nie daardie gulde geleentheid – tuisveldvoordeel, die leeueaandeel van die balbesit (66%) en gebiedsvoordeel (67%) en die All Blacks wat  20 minute lank tot 14 spelers gereduseer was – gebruik om ’n epogmakende sege te behaal nie.

Die Australiërs sal voel dat ’n oorwinning in Nieu-Seeland nie meer ’n vergesogte hoop is nie.

Toegegee, die All Blacks het hul swakste wedstryd in ’n lang tyd in Sydney gespeel en steeds ’n gelykop-uitslag afgedwing. Hul dissipline was van meet af swak (te veel strafskoppe afgestaan; vier deur Richie McCaw), hulle het hul balbesit te veel in reënerige toestande weggeskop, nie in die fisieke opsigte opgedaag nie, taktiese foute gemaak, nie hul kanse gebruik nie en die Aussies feitlike carte blanche ten opsigte van aanvalle in die tweede helfte gegee. Hulle het byvoorbeeld net een keer die bal in die duikslag uitgegee – ’n kenmerkende element van hul spel.

Gelukkig het Kurtley Beale ’n strafskop kort voor rustyd gemis, Nic White se toetsgroenigheid het die druk verlig en die Wallabies het nie aan skepdoele gedink nie, of anders kon die All Blacks hul eerste nederlaag in byna twee jaar gely het.

Maar hierdie gelykopuitslag sou iets in die All Blacks wakker gemaak het en hulle is boonop nou terug in Nieu-Seeland. Om in kragmetings soos die een in Sydney gelykop te speel as jy eintlik moes verloor, wys die diepte van hul karakter. Hulle het soos titane verdedig in Sydney en nog steeds goed geskrum, al was hul lynstane nie op peil nie.

Die All Blacks sal die Wallabies môre aandurf sonder twee van hul strydrosse, Jerome Kaino en Ma’a Nonu. Nonu word deur die betroubare, maar minder avontuurlustige Ryan Crotty van die Crusaders in die nr. 12-trui vervang. Crotty het laas naweek meer as sy deel as ’n plaasvervanger gedoen om die Wallabies te stuit. Sy vennootskap met die terugkerende veteraan Conrad Smith sal daarom nie teleurstel nie en Smith se teenwoordigheid kan dalk net die All Blacks se agterste driehoek, wat totaal onderbenut was in Sydney, laat vlam vat op Eden Park.

Liam Messam, wat ’n elektriese 2013 gehad het maar vanjaar sukkel met sy vorm, vervang Kano en hy sal hard probeer om homself weer aan Steve Hansen te bewys.

Aan die Wallaby-kant kry Beale nog ’n kans op losskakel ná ’n stillerige wedstryd verlede week. Hopelik het hy en White hard aan hul foute geskaaf, want hulle gaan nie weer só ’n proeflopie in Auckland gegun word nie.

Die Wallaby-pak kan ook deurslaggewend wees soos hulle straks in die Sydney-uitslag was. Hoewel nog nie op die vlak van die Springbokke en All Blacks nie, is hul skrums danksy James Slipper en Nathan Charles besig om groot verbetering te toon.

Die voorspelers het ook die bal laas naweek deur goeie fases geneem en die ruimte vir die agterspelers geskep om te baljaar. Nou moet daar net beter afgerond word.

Geen reën word sover vir Auckland voorspel nie en beide spanne se sterkpunte sal beter tot hul reg kom. Die Wallabies het die All Blacks 34-19 in 2008 in Sydney geklop en is ’n week later met 10-39 in Auckland verneder. Gaan ons ’n herhaling hiervan sien of gaan die spook verdryf word? Beide is moontlik.

Spanne

Nieu-Seeland: 15 Ben Smith, 14 Cory Jane, 13 Conrad Smith, 12 Ryan Crotty, 11 Julian Savea, 10 Aaron Cruden, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read, 7 Richie McCaw (kaptein), 6 Liam Messam, 5 Sam Whitelock, 4 Brodie Retallick, 3 Owen Franks, 2 Dane Coles, 1 Wyatt Crockett
Bank: 16 Keven Mealamu, 17 Ben Franks, 18 Charlie Faumuina, 19 Steven Luatua, 20 Sam Cane, 21 Tawera Kerr-Barlow, 22 Beauden Barrett, 23 Malakai Fekitoa

Australië: 15 Israel Folau, 14 Pat McCabe, 13 Adam Ashley-Cooper, 12 Matt Toomua, 11 Rob Horne, 10 Kurtley Beale, 9 Nic White, 8 Wycliff Palu, 7 Michael Hooper (kaptein), 6 Scott Fardy, 5 Rob Simmons, 4 Sam Carter, 3 Sekope Kepu, 2 Nathan Charles, 1 James Slipper.
Bank (een gaan weggelaat word): 16 James Hanson, 17 Pek Cowan, 18 Ben Alexander, 19 Will Skelton, 20 Scott Higginbotham, 21 Nick Phipps, 22 Bernard Foley, 23 Tevita Kuridrani, 24 Ben McCalman.

Afskop: 09:35

Beamptes

Skeidsregter: Romain Poite (Frankryk)
Assistente: Jaco Peyper (SA), Stuart Berry (SA)
TV-beampte: Shaun Veldsman (SA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.