Wallieser voer die toon aan op Ellispark

Die Wallieser, Nigel Owens is die skeidsregter op Ellispark eerskomende Saterdag.

Die Wallieser, Nigel Owens is die skeidsregter op Ellispark eerskomende Saterdag.

Die Walliesers is bekend vir hul pragtige mansangstemme. Dink maar aan die Walliese mannekore en die nimlike Tom Jones. Mense met talent en dinamiese stemme.

Saterdag sal daar weer ‘n Wallieser in Johannesburg wees wat die toon aangee, maar hierdie keer sal hy nie sing nie.

Die Walliese skeidsregter Nigel Owens is die man in die middel op Ellispark. Hy het aan die media gesê dat dit een van die grootste oomblikke van sy loopbaan sal word wanneer hy die fluitjie dra in die beslissende Castle Rugbykampioenskapswedstryd in Johannesburg.

Owens het op klubvlak rugby gespeel en word beskou as ‘n goeie kommunikeerder. Hy gee ook vroeg aanduidings hoe hy die wedstryd gaan blaas en hy kommunikeer duidelik wat hy van wie verwag.

As ‘n span hom nie steur aan dissipline nie, gaan Owens jou straf. Uit en gedaan.

Hy het 10 wedstryde geblaas waarin die Springbokke betrokke was, waarvan die Bokke ses keer aan die wenkant was. Hy was ook die skeidsregter in Hamilton toe die Bokke die All Blacks in 2009 geklop het.

Owens se fokus is ingestel op die afbreekpunte en hy gee duidelike, verbale instruksies oor die moets en moenies. Hy sal ook die losgemaal hard en duidelik aankondig en hy fokus op die persoon wat die duikslae doen en die verdedigers. Daardeur bereik hy ‘n redelike balans. Hy is baie gesteld op die speler wat die duikslag uitvoer en die hulp wat hy van ‘n medespeler ontvang. Hy kyk ook met ‘n valkoog na onkantspel wanneer spelers die losgemale binnekom en straf graag spelers wat nie wegrol nie.

In die skrums vereis hy dat die spelers sy opdragte nakom. Hy het ‘n stadige kadens by die skrumroepe. Hy huiwer nie om skrumoortredings te straf of selfs strafdrieë toe te ken nie. Hy dring sterk aan op die korrekte bind voor die skrum sak en hy beloon graag die dominante skrum.

Owens se strafskoptellings lyk so: hy deel gemiddeld 28 strafskoppe per wedstryd uit, wat hom die hoogste gemiddeld van alle skeidsregters gee (die gemiddeld is 18). Sy tellings loop byna gelykop as dit by die afbreekpunte kom (21 teen die aanvalspan en 29 teen die verdedigende span).

Hy ken ‘n gemiddeld van 10 strafskoppe toe teen ‘n speler wat die spel afseël en hy verwag dat die spelers vinnig sal ontruim. Hy handhaaf ‘n gemiddeld van sewe strafskoppe teen die aanvallende speler wat te lank vashou aan die bal.

Owens straf gemiddeld 10 keer as die verdedigende spelers van die kant af inkom by los spel en straf ‘n speler wat nie wegrol nie gemiddeld 11 keer in ‘n wedstryd. Net 10% van sy strafskoppe vind plaas na oortredings by die skrum en hy straf graag gebrekkige bindwerk, hande op die grond en die loskopstut.

Die Springbokke sal volgens kenners baie gedissiplineerd moet wees by die afbreekpunte. Vuil- en ontoelaatbare spel sal vir seker gestraf word. Hy haat dit as spelers terugpraat of moedswillig is. Hy is nie ‘n “tuisspan”-skeidsregter nie, wat beteken dat hy die tuisspan net so hard sal straf as die besoekers.

Wat sy fiksheid aan betref, sal hy in Johannesburg begin hard asemhaal weens die hoogte bo seespieël. Die speler wat duikslae by die afbreekpunte uitvoer sal ook baie vinnig moet reageer, anders sal hy gestraf word. Dit sal die Bokke loon om hom daarop te wys dat die All Blacks (veral Richie McCaw) daarvan hou om op die onkantlyn rond te lê en hoe hulle rondlê nadat die duikslae uitgeoefen is. Van-die-voete-af spel by die afbreekpunte sal hom ook na sy fluitjie laat gryp.
Die Springbokke se voorsplerafrigter, Johann van Graan, meen dat Owens een van die wêreld se bestes is. “Ons het Nigel gehad teen Australië in Perth en teen Engeland op Twickenham. Ons weet hoe hy dink en doen. Sodra hy op die veld is, neem hy oor. Jy moet aanpas en vertrou dat hy die regte besluite neem, want jy kan dan niks meer doen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.