Wallis bied les in versiendheid vir Saru

Die optrede van die Walliese rugbybase jeens hul nasionale afrigter bied ʼn les in versiendheid aan die onbeholpe SA Rugbyunie (Saru), as hy dit eenvoudig maar ter harte wil neem.

Saam-saam met die nuus dat die Franse húl sukkelende afrigter in die pad gesteek het, word berig dat die Walliese Rugbyunie (WRU) sy nasionale afrigter, Warren Gatland, se opvolger meer as ʼn jaar voor Gatland se uittrede in 2019 sal aanwys.

Ja, langer as ʼn jaar voordat hy die leisels oorhandig!

Op die koop toe het die WRU nóú reeds ʼn kortlys van drie kandidate – al drie Nieu-Seelanders – uitgereik om seker te maak die voorkeurkandidaat word nie deur ander aanbiedings verlei nie.

Die drietal is Dave Rennie, wat die Skotse superklub Glagow Warriors brei; Wayne Pivac, die hoofafrigter van die Walliese streekspan Scarlets (Llanelli); en Chris Boyd, die hoofafrigter van die Hurricanes, reeds ook in 2016 toe die Nieu-Seelanders die Lions met 20-3 om die Superrugbytitel geklop het.

Boyd het die Sharks van 2006 tot 2008 help brei.

Pivac, ʼn gewese hoofafrigter van Fidji, is die enigste van die drie met senior internasionale ervaring as afrigter. Rennie en Boyd het egter albei die Nieu-Seelandse o.20-span gebrei, en dié span het onder Rennie die junior wêreldkroon drie keer op die ry af (2008-2010) gewen.

Benewens dié drietal sal die WRU “noue kontak” met nog twee moontlike kandidate hou, nadat die liggaam die afgelope jaar reeds met 12 aspirante gesels het.

Wallis is tans die enigste van die Britse tuisunies wat laer as die Springbokke op die wêreldranglys is (sewende teenoor die Bokke se sesde plek), en die kans is goed dat hy Suid-Afrika in die komende Sesnasiesreeks kan verbysteek.

Is dit te veel van Saru gevra, gesien in die lig hiervan, om net ʼn klein bietjie meer versiendheid ten opsigte van sy aanstelling van nasionale afrigters aan die dag te lê as wat tans die geval is?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.