Wallis blaas vuur, Engeland ook vuurwarm

Wallis se Hadleigh Parkes (Speler van die Wedstryd) gee sy mening oor die kragmeting teen Skotland op Murrayfield in Edinburg. Wallis het Skotland met 18-11 geklop. (Foto: Twitter via @WelshRugbyUnion)

Die druk om die Sesnasies‑kroon, asook ʼn Grand Slam, te verower en onoorwonne te bly voor die Wêreldbekertoernooi later vanjaar in Japan, kan die Walliese rugbyspan nou aan die hakskeen begin byt.

Wallis het Saterdagmiddag op Murrayfield in Edinburg nog ʼn reusetree gegee om vanjaar se titel te verower toe hy Skotland met 18 – 11 geklop het.

Dit was Wallis se 13de opeenvolgende sege sedert hulle die Springbokke met 24 – 22 in 2017 geklop het. Dit was die Walliese afrigter, Warren Gatland, se 11de agtereenvolgende sege oor Skotland en die kaptein, Alun-Wyn Jones, se rekordtal van 62 seges in ’n Walliese trui.

As Wallis Ierland aanstaande Saterdag kan klop, sal dit die kroon span.

Maar kyk maar net wat met die All Blacks gebeur het toe hulle in 17 toetse onoorwonne was tussen 1965 en 1970 en toe deur die Bokke op Loftus Versfeld geklop is.

Kyk maar net wat het met die Bokke onder Nick Mallett gebeur toe hulle in 1997/’98 ook in 17 toetse onoorwonne was, maar teen Engeland vasgeval het.

Kyk maar net wat het met die All Blacks gebeur toe die Iere hulle in 2016 in Chicago met 40 – 29 van hul troon afgestamp het en hulle nie op hul rekordtal van 18 opeenvolgende seges kon verbeter nie.

Die druk raak al hoe groter, dit bou al hoe meer op, al het dié Walliese span byna die kuns volmaak om aan die wenkant te bly en “verloor” uit hul woordeskat te verban.

Wallis het die Skotte behoorlik gewurg. Hul verdediging was rotsvas en die Skotte is nooit kans gegee om eens uit eerste rat te kom nie.

Maar is twee drieë (deur Josh Adams en Jonathan Davies) genoeg om die Sesnasies en later dalk ook die Webb Ellis-trofee omhoog te hou?

Haal nogtans die hoed vir dié Walliese span af, daar skort niks met hul passie nie, hulle plaas hul lywe op die spel vir hul spanmaats en hulle maak ten volle gebruik van hul kanse.

Punte:

Wallis 18 (15): Drieë: Josh Adams, Jonathan Davies. Doelskop: Gareth Anscombe. Strafdoele: Anscombe (2).

Skotland 11 (6): Drie: Darcy Graham. Strafdoele: Finn Russell (2).

Engeland se Joe Cokanasiga hardloop met die bal tydens die Sesnasieskragmeting tussen Engeland en Italië op Twickenham-stadion in Londen. [9 Maart 2019]. (Foto: Matt Dunham/AP)

* Engeland het op Twickenham in Londen een van sy beste vertonings in die eerste helfte van sy puik oorwinning van 57 – 14 oor Italië gelewer, maar vroeg in die tweede helfte het dit soms nie so rooskleurig met die Rose gegaan nie.

Toe die span egter die stang weer vasbyt, het die damwal gebars en het dit op agt puik drieë uitgeloop.

Die slag is voor rustyd geslaan toe Engeland met 31 – 7 voor was.

Dit was die derde meeste punte wat Engeland nog in ʼn Sesnasieskragmeting in die eerste helfte aangeteken het en net die 34 punte teen Wallis in 1998 en twee keer 33 punte teen Italië (in 2001 en 2003) het meer punte opgelewer.

Wees verseker, dié Engelse span kan nie sonder handskoene in Japan aangedurf word nie. Daar is dalk een of twee leemtes, maar wanneer hulle aan die gang kom, vee die pak alles voor hulle plat en is hul monstersenters feitlik onstuitbaar.

Dan bly die afrigter, Eddie Jones, die span se troefkaart, of jy nou van hom hou of nie.

Punte:

  1. Engeland 57 (31): Drieë: Jamie George, Manu Tuilagi (2), Jonny May, Brad Shields, Dan Robson, George Kruis (2). Doelskoppe: Owen Farrell (4), George Ford (3). Strafdoel: Farrell.

Italië 14 (3): Drieë: Tommaso Allan, Luca Morisi. Doelskoppe: Allan (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos ·

Eks seker Nick Mallet se Bokspan se nederlaag was teen Wallis en teen Engeland soos berig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.