Wallis het respek vir ‘nuwe’ Springbok-span

Foto: GB Jordaan.

’n Mens voel opgewonde oor die tweede toets tussen die Springbokke en Wallis in Bloemfontein.

Ja, die eerste kragmeting op Loftus Versfeld het inderdaad op ’n aksiebelaaide einde afgestuur, maar die meeste mense sal saamstem dat die Suid-Afrikaners nie heeltemal op dreef was nie.

Dinsdag het Jacques Nienaber vriend en vyand met sy spankeuse verras. Veertien nuwe gesigte in die opdrafspan beteken dat die Springbok-afrigter daad by woord voeg nadat hy gesê dat hy vir ander, minder gevestigde spelers as jy wil, ook kans vóór volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi wil gee.

Sir Gareth Edwards het intussen die spankeuse as oneerbiedig bestempel. Sy wenkbroue sou seker ’n bietjie gelig het as daar vyf of ses veranderinge was, maar 14? Dit is ’n bietjie oorweldigend.

“Ek dink nie dit toon enige respek jeens Wallis nie. Daar is eintlik net een manier vir Wallis om op hierdie spankeuse te reageer en dit is om vir die Springbokke ’n goeie loesing te gee. Dit is ’n goeie geleentheid om hulle ore aan te sit en sodoende te bedank vir die span wat hulle gekies het,” het die 74-jarige oudskrumskakel gesê.

Maar met net een spanaankondiging het Nienaber se etiket as ’n konserwatiewe afrigter amper by die stadionvenster uitgewaai.

Baie is opgewonde om te sien wat Evan Roos en Kurt-Lee Arendse in ’n Springbok-trui kan doen, terwyl iemand soos Marcell Coetzee beslis weer ’n kans verdien om sy land te verteenwoordig.

Hulle het dalk as ’n span nog nie baie saam geoefen nie, maar hulle kan waarskynlik nie veel swakker as verlede week se opdrafspan in die eerste 40 minute doen nie, of hoe?

Die Springbokke vier hul oorwinning in die eerste toets. Foto: GB Jordaan.

Intussen het Wayne Pivac net een verandering aan die Rooi Drake se beginvyftiental gemaak – Alex Cuthbert sal die no. 11-trui dra, met Josh Adams wat na die plaasvervangersbank skuif.

“Alex lyk baie goed op die oefenveld. Hy is vinnig en amper twee meter lank en kan van groot waarde onder die hoë bal wees. Ek dink juis dat daar baie geskop gaan word,” het die Wallis-afrigter gesê.

Die veranderinge aan die Springbokspan het ook nie ’n invloed op Wallis se voorbereidingswerk gehad nie.

“Ons gaan weer teen 15 spelers in groen truie speel en ons verwag ’n soortgelyke aanslag as in die verlede. Hulle beskik oor baie ervaring; ongeag die kombinasies wat hulle kies. Hierdie span verdien respek en moenie ligtelik opgeneem word nie.”

Die wedstryd begin Saterdag om 17:05 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Springbokke: Warrick Gelant (heelagter), Kurt-Lee Arendse (regtervleuel), Jesse Kriel (buitesenter), André Esterhuizen (binnesenter), Aphelele Fassi (linkervleuel), Handré Pollard (losskakel en kaptein), Jaden Hendrikse (skrumskakel), Evan Roos (agtsteman), Pieter-Steph du Toit (flank), Marcell Coetzee (flank), Marvin Orie (slot), Eben Etzebeth (slot), Trevor Nyakane (stut), Joseph Dweba (haker) en Thomas du Toit (stut). Plaasvervangers: Malcolm Marx, Ntuthuko Mchunu, Vincent Koch, Ruan Nortjé, Rynhardt Elstadt, Deon Fourie, Grant Williams en Damian Willemse.

Wallis: Liam Williams (heelagter), Louis Rees-Zammit (regtervleuel), George North (buitesenter), Nick Tompkins (binnesenter), Alex Cuthbert (linkervleuel), Dan Biggar (losskakel en kaptein), Kieran Hardy (skrumskakel), Taulupe Faletau (agtsteman), Tommy Reffell (flank), Dan Lydiate (flank), Adam Beard (slot), Will Rowlands (slot), Dillon Lewis (stut), Ryan Elias (haker) en Gareth Thomas (stut). Plaasvervangers: Dewi Lake, Wyn Jones, Sam Wainwright, Alun Wyn Jones, Josh Navidi, Tomos Williams, Gareth Anscombe en Josh Adams.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet ·

As Wallis speel soos verlede naweek het hulle ‘n goeie kans om hierdie swakker Bok-span te klop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.