Wallis klop die Poemas, Japan vir Italië

Benewens die drie wedstryde wat deur die Sanzaarspanne Suid-Afrika, Australië en Nieu-Seeland teen Sesnasiesspanne gewen is, was daar ook laat Saterdagaand die ietwat onverwagte blaps van die Poemas teen Wallis.

Wallis, wat amper dubbel soveel duikslae moes uitvoer en kwalik 40% van die balbesit óf gebiedsvoordeel gehad het, het in Buenos Aires met 23-10 gewen teen die Argentyne wat in feitlik elke opsig oorheers het, maar op verkeerde plekke besit of strafskoppe afgestaan het.

Dit was nietemin eintlik maar die Jaguares wat verloor het, want net een verandering is aan hulle laaste span in die Superreeks vir hierdie toets aangebring. Wallis was ook sterker as die een wat verlede week met 22-20 teen die onervare Bokke deurgeskraap het.

Die Poemas sal nietemin heelwat beter moet speel om hond haaraf  te maak in die Rugbykampioenskap en einde vanjaar op die jaareindtoer in Europa goed te vaar.

♦ Japan is aan die groei as rugbykrag en het tuis teen Italië gewen. Die telling was 34-17 nadat die wenspan met rustyd net met drie punte voorgeloop het. Twee drieë kort ná mekaar het toe Italië se moed finaal gebreek.

Goed, Italië is allermins ʼn krag in die Sesnasiesreeks, maar dat iets in Japanse rugby aan’ t gebeur is , is gewis.

♦ Die VSA, wat nou deur die voormalige assistentafrigter van die Bokke, Gary Gold, afgerig word, was veels te sterk vir Rusland, wat reeds vir die Wêreldbeker gekwalifiseer. Die Eagles het met 62-13 gewen; en ʼn verswakte Skotland het Kanada, wat vanjaar uitermate sukkel, op hulle tuisveld met 48-10 geklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.