Wallis los Britse Leeus tuis vir Bokke en Poemas

Wallis, wat op 2 Junie in Washington teen die Springbokke speel, het slegs 31 spelers vir hul toer van drie toetse na die VSA en daarna Argentinië gekies – en onder meer van hul huidige Britse en Ierse Leeus ruskans gegee.

Trouens, met die eerste oogopslag kan ʼn mens 11 onlangse Leeus identifiseer wat óf ruskans gegee word óf nie beskikbaar is nie.

Die gedagte van die afrigter Warren Gatland met sy 31-tal is duidelik om diepte te bou met die oog op aanstaande jaar se Wêreldbekertoernooi in Japan, en aan ʼn paar jonger spelers meer as net ʼn proesel toetsrugby te gee.

Dit is nietemin ʼn span met heelwat ervare spelers, en Gatland wys daarop dat die beperkte aantal spelers – 31 soos dit by die Wêreldbeker sal wees – gedoen is met die doel om almal heelwat speelkans te bied.

Wallis speel ná die toets teen die Bokke op die daaropvolgende twee Saterdae ook teen die Poemas.

♦ Dit is interessant dat net 12 van die toerspan van 31 verlede jaar in die wedstryd-23 was wat met 24-22 teen die Springbokke gewen het.

Daar is slegs een speler in die groep wat nog nie toetsrugby gespeel het nie. Tomos Williams, die skrumskakel van die Cardiff Blues, het nietemin al ʼn hele paar keer nasionale voorbereidingskampe bygewoon en is dus vertroud met die strukture van Gatland.

Agt van die toerspan se spelers het meer as 20 toetse gespeel, waarvan drie meer as 60 keer vir Wallis uitgedraf het.

Onder die weglatings of onbeskikbaarheid vir die toer is daar die onlangse Leeus Alun Wyn Jones, wat ook die huidige Walliese kaptein is; die ervare losskakel Dan Biggar; en die twee manne wat vleuel en heelagter kan speel, Liam Williams en Leigh Halfpenny; Taulupe Faletau; Jamie Roberts; Rhys Webb, die Leeus se kaptein in Nieu-Seeland Sam Warburton, Ken Owens, Tomas Francis en Kristian Dacey.

Engeland-toerspan (klubs, aantal toetse tussen hakkies) –

Voorspelers
Rob Evans (Scarlets) (25), Wyn Jones (Scarlets) (8), Nicky Smith (Ospreys) (18), Elliot Dee (Dragons) (7), Ryan Elias (Scarlets) (2), Tomas Francis (Exeter Chiefs) (31), Samson Lee (Scarlets), (38), Dillon Lewis (Cardiff Blues) (2), Adam Beard (Ospreys) (2), Bradley Davies (Ospreys) (62), Seb Davies (Cardiff Blues), (4) Luke Charteris (Bath) (74), Cory Hill (Dragons) (15) (medekaptein), James Davies (Scarlets) (1), Ellis Jenkins (Cardiff Blues) (6) (medekaptein), Ross Moriarty (Gloucester) (20), Josh Navidi (Cardiff Blues) (11), Aaron Shingler (Scarlets) (17).

Agterspelers
Aled Davies (Scarlets) (8), Gareth Davies (Scarlets) (32), Tomos Williams (Cardiff Blues) (0), Gareth Anscombe (Cardiff Blues) (15), Rhys Patchell (Scarlets) (8), Hadleigh Parkes (Scarlets) (6), Owen Watkin (Ospreys) (4), Scott Williams (Scarlets) (55), Josh Adams (Worcester Warriors) (2), Hallam Amos (Dragons) (15), Steff Evans (Scarlets) (9), George North (Northampton Saints) (73), Tom Prydie (Scarlets) (7).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.