Wallis-SA-toets dompel VSA Rugby in geldkrisis

`n Advertensie vir die toets in Washington. (Foto: Twitter)

Die verlies veroorsaak deur die Junietoets tussen Suid-Afrika en Wallis in Washington het VSA Rugby glo dermate in die skuld gedompel dat Wêreldrugby ʼn noodlening aan hom moes toestaan om die Seweswêreldbeker later vanjaar in San Francisco te red.

Die wedstryd in Washington is deur Rugby International Marketing (RIM) aangebied, ʼn maatskappy waarin VSA Rugby ʼn aandeel van 75% het.

Luidens berigte is die deelnemende spanne elk £550 000 (nagenoeg R10 miljoen) gewaarborg.

RIM moes glo 27 000 kaartjies verkoop om gelyk te breek, maar omdat albei lande erg verswakte spanne in die veld gestoot het, is skaars meer as 20 000 kaartjies verkoop.

Na wat berig word, moet die lening ook help om die waarborg aan Suid-Afrika en Wallis na te kom.

Dit lyk na ʼn klassieke geval van die een se brood is die ander se dood.

Die maatskappy was reeds geldelik in die verknorsing nadat sy TV-onderneming, The Rugby Channel, glo die afgelope twee jaar ʼn verlies van $4 miljoen (sowat R53 miljoen) gely het. Dis verlede maand verkoop, glo teen ʼn appel en ʼn ei, om verdere verliese te voorkom.

Will Chang, RIM se voorsitter, en nóg vier van die onderneming se ses direkteure het intussen bedank.

Die WR-lening bedra glo etlike miljoene ponde, en moet ná die sewestoernooi terugbetaal word.

WR ontken dat laasgenoemde toernooi in gedrang was, en sê die lening is bloot om VSA Rugby te help om koste te dra wat vooruit betaalbaar is.

Daar word ook berig dat die Engelse Rugbyunie (RFU) en die Londense klub Harlequins die geskatte £1,4 miljoen (ongeveer R25 miljoen) wat hulle in RIM belê het, afgeskryf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

What a joke! ·

Ja nee mooi manne.
Mooi Rassie mooi Saru! Ook super slim dat hul dit daar gaan speel waar die meeste mense American Football,Baseball en Basketball verkies ne..
Dit was ook so n suksesvolle kwota toets was dit nie waar die eindresultaat
die Oud Springbok maar net nog stap verder laat geval het op die wereld ranglys…Bwahahahaaa…hou so aan soos ou Wezley gese het” die span sal die ding doen”…..En nou die finansieele vernkorsing wat die VSA mee moet sit oor Rassie hulle besluit om diepte te gaan soek op internasionale vlak…Toets vlak nogal!!! En sommiges se die ouens soos Wesley ken van rugby ne….
Mense betaal groot geld en verwag die groot manne vir die groot geld wat hul betaal!
Lekker bloedneus net jammer die verkeerde ouens het dit gekry!

AS DIT DAN NIE DIE EERSTE SPAN SPRINGBOKKE IS WAT GAAN OPDAAG NIE NOEM HUL DAN IETS anders SOOS MISKIEN DIE BONTEBOKKE OF PROTEAS…..Hou op mense mislei! Hul moet die geld verhaal van daai swak span wat ingestuur is en Saru!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.