Wallis sal deur die meule moet gaan

In Wallis was daar nog altyd ʼn voerband na die stutfabriek: die paadjie wat die manne sonder die nekke en blomkoolore, soos Graham Price, Dai Young, Adam Jones, Courtney Meredith en Gethin Jenkins gestap het.

Nou glo die Walliesers dat hulle die volgende geslag stutte op die voerband geplaas het vir die komende toetse  teen die Wallabies, Georgië, Nieu-Seeland en die Springbokke.

Die 20-jarige Leon Brown (1.89 m en 112 kg) is in ʼn groep van 36 spelers gekies vir een van die strafste maande wat wag, want wees maar verseker dat Georgië ook die Walliesers voorlangs sal laat klippe kou.

As Brown, wat nog nat agter die ore is, die toets slaag, sal daar breed in die Walliese valleie geglimlag word.

Daar is nege Britse en Ierse Leeus in die Walliese span, net twee spelers met die van Jones (Alun Wyn en Wyn) en net twee spelers met die van Williams (Owen en Liam). Dis effe vreemd vir ʼn Walliese span.

Die valbyl het op die veteraan-senter Jamie Roberts geval, en ook op die hemelbesem-slot Luke Charteris, Scott Williams en Sam Davies.

Daar is vyf spelers wat nog nie voorheen toetsrugby gespeel het nie:  Brown , Elliot Dee, Sam Cross, Owen Watkin en die Nieu-Seelander Hadleigh Parkes, wat ʼn paar seisoene gelede sonder veel welslae vir die Southern Kings gespeel het.

Afgesien van die vyf nuwelinge, is daar ses spelers wat hul buigings vir Wallis gemaak het terwyl die Britse en Ierse Leeus deur Nieu-Seeland getoer het.

“Twaalf maande gelede was die fokus op ons ranglysposisie (vir ’n beter loting in die Wêreldbekertoernooi). Nou is die klem daarop om te sien waartoe die nuwelinge in staat is. Die belangrikste is dat die deur nie gesluit is nie,” het Gatland gesê.

Maar wat doen jy as Wallis sukkel? Val jy terug op ʼn veteraan soos Roberts of ontwikkel jy die nuwelinge?

Die Walliese groep –

Voorspelers
Rob Evans, Wyn Jones, Nicky Smith, Leon Brown, Tomas Francis, Samson Lee, Kristian Dacey, Elliot Dee, Ken Owens, Jake Ball, Adam Beard, Seb Davies, Cory Hill, Alun Wyn Jones, Sam Cross, Taulupe Faletau, Dan Lydiate, Josh Navidi, Aaron Shingler, Justin Tipuric.
Agterspelers
Aled Davies, Gareth Davies, Rhys Webb, Dan Biggar, Rhys Patchell, Rhys Priestland, Owen Williams, Jonathan Davies, Tyler Morgan, Hadleigh Parkes, Owen Watkin, Hallam Amos, Alex Cuthbert, Steffan Evans, Leigh Halfpenny, Liam Williams.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.