Wallis se Rooi Drake blaas vuur

Foto: WelshRugbyUnion/Twitter

Wallis se rugbyspan het Saterdagmiddag in Cardiff die kroon gespan toe hy Ierland met 25-7 afgeransel het om die Sesnasiesreeks en Grand Slam te wen.

Wallis was rustyd reeds met 16-0 voor en al sou Engeland ook vir Skotland afransel, kan die Engelse nie meer as kampioen gekroon word nie.

Dit moet sekerlik die grootste hoogtepunt van die seëvierende Walliese afrigter, Warren Gatland, wees nadat hy in 2012 sy eerste Grand Slam (onoorwonne teen al die ander Sesnasies-teenstanders) gewen het. Dit is Gatland se derde Grand Slam, sy vierde Sesnasiestitel in die 11de jaar dat hy aan die stuur van sake is en Wallis gaan boonop die Iere uit die tweede posisie op die Wêreldranglys skuif wanneer dit Maandag aangepas word.

Wat die Nieu-Seelander ook baie genot moes verskaf het, is dat al Wallis se punte deur Nieu-Seelanders aangeteken is. Die senter Hadleigh Parkes het Wallis se enigste drie ná slegs 70 sekondes gedruk en die losskakel, Gareth Anscomb, het 20 punte (een doelskop en ses strafdoele) bygedra. Dis juis twee spelers wat nooit werklik die mas in Nieu-Seeland kon opkom nie, maar hul loopbane het onder Gatland geblom en hul ware kleure het nou na vore gekom.

Wallis het net sewe drieë (die minste van al die spanne) in vanjaar se Sesnasiesreeks afgestaan. Dit was juis Wallis se byna onpriembare verdedigingstelsel wat die grondslag vir die oortuigende sege gelê het.

Die Rooi Drake het die Iere behoorlik gewurg en hul twee grootste wedstrydwenners, Conor Murray (skrumskakel) en Johnny Sexton (losskakel), só onder druk geplaas het dat hulle voete van klei gehad het.

Dan het die Iere se voorspelers ook nie oorhand op die nat veld gekry nie en moet ʼn mens die afrigter, Joe Schmidt, se besluit bevraagteken toe hy aangedring het dat die dak van die stadion nie toegemaak moes word nie.

Uit ʼn Springbokoogpunt moet die Walliesers se vertoning soos manna uit die hemel wees. Die Iere, wat na alle waarskynlikheid teen of die Bokke of All Blacks in die kwarteindronde van die WB-toernooi te staan gaan kom, is kwesbaar, sommer baie.

Wallis het gewys (nie dat die Bokafrigter, Rassie Erasmus dit nie alreeds weet nie), dat die Iere baie leemtes het. Hulle het nou ook ʼn knou weg en sal sukkel om die sielkundige letsels af te skud. Daarteenoor is Wallis nou een van die kroonprinse vir WB-glorie.

* In Saterdag se vroeë wedstryd het Frankryk Italië met 25-14 in Rome geklop.

Puntemakers: Wallis 25 (16): Drie: Hadleigh Parkes. Doelskop: Gareth Anscombe. Strafdoele: Anscombe (6)
Ierland (7 (0): Drie: Jordan Larmour. Doelskop: Jack Carty.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Babertondaisy ·

Fantasties wedstryd vandag teen Ierland. Wallis al ten minster 25 op ons kwota bokke sit. Noordelike halfrond rugby tussen England, Ierland en Wallis baie sterk. Wallis Grand Slam kampioene. Geluk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.