Wallis skommel ook baie vir Bokke

Dit gebeur nie aldag dat afrigters toetsrugby gebruik om proefnemings te doen nie, maar dit is juis die geval wanneer Wallis Saterdag in Washington in die eenmalige toets teen die Springbokke speel.

Nadat die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, sewe groentjies in sy uitdrafspan gekies het, het die Walliesers se breier, Warren Gatland, ook met ʼn paar van sy keuses verras.

Hy het eintlik geen ander keuse gehad nie. Baie van sy topspelers is nie gekies nie om hul ruskans te gee; ander is beseer en drie spelers wat in Engeland klubrugby speel, het nie toestemming gekry om te speel nie omdat die toets buite die toetsgleuf val.

Die Walliesers word die eerste keer deur die flank Ellis Jenkins aangevoer en die makro-vleuel George North (1,94 m en 104 kg)  word op senter ingespan.

North het vroeg in sy loopbaan, asook in 2014 en 2015, drie keer in toetse senter gespeel.

“Op die lang termyn, is hy ʼn opsie in die middelveld. Ons het spelers al voorheen gesien wat op vleuel begin het en toe na senter geskuif is, soos Tana Umaga en Ma’a Nonu,” het Gatland in Washington aan Wales on Line gesê.

Ter inligting: Umaga het in die eerste 24 van sy 74 toetse vleuel gespeel en is toe suksesvol senter toe geskuif. Nonu is egter nie een keer in 103 toetse in die opdrafspan op vleuel gekies nie en is net ses keer as plaasvervanger-vleuel opgestuur.

Maar nou ja, dis altyd lekker om ná die tyd die rekordboeke te gaan naslaan en jou dan slim te probeer hou!

Gatland glo nietemin dat North, wat reeds in 76 toetse gespeel het, met sy krag en vaart ʼn groot impak op senter kan maak.  Aan die ander kant, hoekom wag totdat ʼn speler 76 toetse agter die blad het om hom dan eers te skuif? Was hy dan nie in 2014/’15 ʼn sukses op senter nie?

Daar is baie bekende name wat die seisoen in die Pro14-reeks in aksie was, in die span.

Kan dié span die Bokke klop?

Kom ons wag maar vir Saterdagaand.

Die Walliese span ‒
15 Hallam Amos, 14 Tom Prydie, 13 George North, 12 Owen Watkin, 11 Steff Evans, 10 Gareth Anscombe, 9 Tomos Williams, 8 Ross Moriarty, 7 Ellis Jenkins (kaptein), 6 Seb Davies, 5 Cory Hill, 4 Bradley Davies, 3 Dillon Lewis, 2 Elliot Dee, 1 Nicky Smith. Bank: 16 Ryan Elias, 17 Wyn Jones, 18 Rhodri Jones, 19 Adam Beard, 20 Aaron Wainwright, 21 Aled Davies, 22 Rhys Patchell/Gareth Davies, 23 Hadleigh Parkes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.