Wallis-toets: Bokskande met die intrapslag

Daar is dieperliggende probleme in Suid-Afrikaanse rugby as om elke paar jaar net van afrigter te verander.

Ja, dinge kon nie so voortgaan onder Allister Coetzee nie, en ja, ʼn mens kan nie vir Rassie Erasmus op net een vertoning oordeel nie.

Maar Erasmus se termyn het met die intrapslag die wind van voor gekry toe die Rooi Drake die Springbokke Saterdagaand in Washington met 22-20 geklop het.

Is dit nie ʼn skande nie wanneer jy drie keer agtereenvolgens verloor teen ʼn span wat swakker as jy op die wêreldranglys is?

Jinne, mense, dit was boonop teen een van die mees uitgedunde Walliese spanne nóg. Wallis se beste spelers toer nie saam nie, is óf beseer óf nie beskikbaar nie, maar hul tweede- en derdevlakspelers is steeds goed genoeg om die Bokke bloedneus te gee.

Hoe is dit moontlik, met hul beperkte spelersgetalle?

Onthou gerus dat Walliesers ook eers ʼn paar dae gelede in Washington aangekom en dat hulle ook in die reën en op die nat veld met ʼn glibberige bal gespeel het.

Die Rooi Drake het boonop ʼn geelkaart gekry nadat die senter Owen Watkins die bal oor die doellyn geklap het. Een of twee van hul sleutelspelers is vroeg beseer, maar steeds kon die Bokke dit nie uitbuit nie.

Verskonings?

Die Bokke kon net twee of drie keer saamoefen; die nat veld het hulle gekortwiek; dit was ʼn span vol nuwelinge.

Nee, mense, daar is maande gelede al gekla oor die onsinnige besluit om die toets in Amerika te speel. Wie se besluit was dit?

Hoeveel oefenkampe is daar tydens die Superreeks gehou? Daar is wel belyningskampe gehou waar die spelers drie dae lank agter geslote deure ingelig is wat van hulle verwag word, maar van saamoefen was daar geen sprake nie. Daar was, soos voorsien kon word, nie die tyd daarvoor nie.

Ligpunte?

Die vertoning van André Esterhuizen was byna die enigste opflikkering, maar kom ons laat die res maar daar.

Nou wag Engeland.

Erasmus gaan die oorsese Bokke inspan, dit gaan droog op Ellispark wees, hy sal ʼn ervare span kies … maar ai, dit maak darem baie seer om te sien hoe Springbokrugby al hoe verder deur die modder gesleep word en daar links en regs kleure uitgedeel word.

Puntemakers ‒

Wallis (14) 22: Drieë: Hallos Amos, Tomos Williams, Elias Jenkins. Doelskoppe: Gareth Anscombe (2). Strafdoel: Anscombe.
Suid-Afrika (3) 20: Drieë: Travis Ismaiel, Makazole Mapimpi.  Doelskoppe: Elton Jantjies (2). Strafdoele: Jantjies, Robert du Preez.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

71 Kommentare

jongste oudste gewildste
jakes

Alhoewel die punteverskil net 2 was, is die algemene spel van die Bokke nie op standaard nie. Ten minste helfte van gisteraand se span gaan volgende saterdag in aksie wees teen England en as die Bokke nie n paar trappies beter gaan speel nie sien ek moeilikheid n myl ver aankom. Rugby is n span sport en gisteraand wou te veel spelers op eie houtjie probeer om die wedstryd te wen.

Niklaas

Ek het lanklaas so n vervelige wedstryd aanskou. Dan het ek die indruk gekry dat die afgewaterde sukkel Bokke bang is vir beserings. Ek sien maar swarigheid vir Bokke as dinge nie drasties verbeter betreffende aanval asook verdediging nie. Daar was min sterre aan SA kant op die veld . Gelukkig speel weinig van hulle teen Engeland komende Saterdag !

Nico

Die probleem is daar was nog steeds te min ANC keuses in die span. Boet jy wat by Monnas die skool verlaat om in Frankryk te gaan speel doen die regte besluit. Ek doen al vir die afgelope 3 of 4 jaar ‘n beroep op ons skole spelers dat hulle na graad 12 oorsee moet gaan want hul geleenthede word net minner en ons rugby alhoe swakker. Die Le Roux seun van Monnas het nou die ys gebreek. As dit nou net momentum kan kry klop die europese lande ons met ons eie spelers oor so ‘n jaar of 10… Lees meer »

Willem
Allan

Die “Springbok” word verneder, en die wonderlike geskiedenis en trots daarmee saam. Asb, ek stem saam met Ne’, haal hom af, maak dit nou maar “Zebras” of “Proteas”