Wallis vies vir toeskouer se manewales

Liam Williams op die aanval. Foto: Geoff Caddick/AFP.

Walliese rugbyliefhebbers is taamlik warm onder die kraag vir die toeskouer wat Saterdag op die veld gehardloop het tydens die Springboktoets in Cardiff.

Liam Williams – wat volgens dié ondersteuners hard onderweg was om ’n drie te druk – moes skielik uit die pad van die veiligheidswag swenk wat hom probeer keer het om die man plat te duik.

Hoewel Wayne Pivac (Wallis-afrigter) intussen gesê het dat hy onseker is of Williams ooit die driedrukpoging suksesvol sou afgerond het, is die Rooi Draak-ondersteuners steeds omgekrap.

En die vrolike toeskouer – wat glo alles vir ’n weddenskap van £20 gedoen het – is nou lewenslank uit die Principality-stadion geskors.

“Ons veroordeel hierdie gedrag en die oortreder sal nooit weer kaartjies vir enige rugbywedstryd op die Principality-stadion mag koop nie,” het Mark Williams, stadionbestuurder, gesê.

Volgens Williams is hy ook teleurgesteld dat die opportunistiese toeskouer ’n lid van ’n rugbyklub is en die Walliese Rugby-unie ondersoek die moontlikheid dat dit ’n oortreding van sy gedragskode is.

“Ek wil graag die veiligheidspan vir die flinke optrede bedank. Vir langer as 20 jaar het die stadion se unieke atmosfeer gesorg dat dit as een van die beste ter wêreld beskou word; dit is egter hartseer dat daar nou aan bykomende maatreëls gedink moet word om toeskouers in toom te hou.”

Intussen is sir John Kirwan ook glad nie in sy skik met die toeskouers se manewales nie.

“Dit is hartseer dat dié nar se optrede moontlik sal beteken dat jong kinders nie weer op die veld toegelaat sal word om hul helde te ontmoet nie,” het die All Blacks-legende gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Robert

Gaan kyk maar weer na daardie stuk spel. Die aangee na Williams was so swak hy het geen kans gehad om die drie te druk nie. Die Bokke se verdediging was te vinnig op hom. Ek sien die toeskouer het het gratis bier gekry op die pad uit die stadium.

Niklaas

Dit is nie uitgemaakte saak dat ‘n drie aangeteken sal word nie. Daar was Bok verdedigers en die doellyn was nog redelik ver.

Piet

Wallis moet nie te opgewerk raak nie, hul moet eerder kla oor die wettige Mapimpi drie wat nie in die 68ste minuut toegeken is nie.