Wallis wil ná 13 neerlae weer teen die Wallabies wen

Wallis, een van die ware rugbylande met hul passievolle toeskouers wat eenvoudig vir die spel leef, het Saterdag teen Australië die uitdaging om sedert 2008 – die eerste keer ná 13 agtereenvolgende neerlae – weer aan die wenkant te kom.

Ja, Wallis was deur die jare altyd moeilik op die veld en passievol op die pawiljoene en in die kuierplekke, maar dit het hulle byvoorbeeld teen Suid-Afrika 13 wedstryde geneem om aan die wenkant te kom sedert die twee lande in 1906 die eerste keer teen mekaar gespeel het.

Ná die 12 oorwinnings en ʼn gelykopwedstryd het die Bokke toe in 1999 die eerste keer teen Wallis verloor. Dit was net drie wedstryde ná die rekordgetal van 17 agtereenvolgende oorwinnings van Suid-Afrika onder Nick Mallett wat in 1998 ten einde geloop het.

Dié neerlaag het ná twee Springbok-oorwinnings in 1998 van 96-13 in Pretoria en later van 28-20 in Wallis gekom.

Nou staan die Springbokke boonop, ná drie agtereenvolgende neerlae, teen die Drake met net een wen in hul laaste vyf kragmetings, met die rug teen die muur.

♦ Maar laat ons terugkom na die Wallabies en Wallis.

Die Drake het die eerste kragmeting in 1908 met 9-6 gewen en daarna, in die dae van min toetsrugby, en veral besonder min tussen dié twee lande, ses van die eerste agt toetse teen Australië gewen.

Toe kom die Aussies, oorheers die toetse tussen die twee lande en wen 12 van die volgende 14 wedstryde tussen 1978 en 2003. Daar was in 2006 ʼn gelykop-uitslag en in 2008 vir die Walliesers darem ʼn laaste oorwinning met 21-18 teen die Wallabies.

Sedertdien was dit eenrigtingverkeer tussen die twee lande en 13 agtereenvolgende oorwinnings vir die Wallabies tot verlede jaar.

Die afgelope twee jaar sukkel die Australiërs egter.

Hulle het net 10 van hul laaste 23 toetse gewen waarvan daar vanjaar drie oorwinnings in nege wedstryde was. En hulle gaan Saterdag te doene kry met ʼn Walliese span wat tot nege Britse en Ierse Leeus kan insluit.

Dit is dus Saterdag vir die Wallabies baie belangrik om te wys dat hulle teen die Britse unies staande kan bly. Die Wêreldbeker-toernooi is net om die draai, en die selfvertroue wat deur wen kom, is van die uiterste belang.

Dan is daar ook nog hul afrigter Michael Cheika, wie se kop op die blok is ná vanjaar se skamele drie oorwinnings in nege wedstryde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

nico k ·

Ek dink Wallis is saam met NZ die enigste lande waar rugby as die nasionale sport beskou kan word. (Miskien ook die Suidsee eilande?)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.