Wanderers wil Goue Beker met RWB-spelers wen

wanderers windhoekNamibië se verteenwoordiger in die oop klubs se reeks om die Goue Beker (GB), FNB Wanderers van Windhoek, hoop om minstens vier spelers in te span wat die land in die afgelope toernooi om die Wêreldbeker (RWB) verteenwoordig het.

JP Nel, die span se hoofafrigter, sê die senters Heinrich Smit en JC Greyling en twee losvoorspelers Tinus du Plessis (verlede jaar se kaptein) en Ruan Kitshoff behoort vir Wanderers in die reeks uit te draf.

Die heelagter Johan Tromp is ook `n lid van die klub, maar Nel sê dit lyk of hy op pad na die Southern Kings toe is om Superrugby te gaan speel.

Du Plessis is op die oomblik by London Scottish, maar Nel hoop dat hy betyds vir die Goue Beker terug sal wees.

Van die ander spanlede het die flank Stef Botha en die agsteman Zana Botes ook al vir Namibië gespeel.

Botha het vroeër vir die Westelike Provinsie se o.21-span en Botes vir die Goue Leeus se o.21-span gespeel. Botha het twee jaar gelede vir Valsbaai in die reeks om die, toe nog, Gemeenskapsbeker gespeel.

Die stut Gerhard Lotter het verlede jaar vir Valsbaai gespeel en vir Opkomende WP in die nasionale amateurkampioenskap uitgeblink.

Nel, wat Superrugby vir die Bulls gespeel het, sê toe hy twee jaar gelede Wanderers begin afrig het, was dit sy grootste droom om die klub teen die beste SA klubspanne te meet en hy is baie dankbaar dat die SA Rugbyunie (Saru) Wanderers die geleentheid bied om aan die GB-reeks deel te neem.

Hy sê klubrugby in Namibië is nog baie gesond en sterk en wil graag die gehalte teen die sterkste SA spanne meet. Wanderers mik daarna om minstens die uitspeelrondes te haal.

“Baie van my spelers het nog nie die geleentheid gehad om hulself aan SA klubs en skole te meet nie en hulle kry dus `n gulde geleentheid daarvoor.

“Tipiese Blou Bulrugby,” antwoord Nel op `n vraag watter soort rugby Wanderers speel.

“Nee, ek grap net,” stel hy sake dan vinnig reg.

“Ons het vanjaar baie goeie agterspelers – op skrumskakel, linkervleuel, die senterpaar en die heelagter – wat al vir Namibië gespeel het en dit steeds doen, en ons gaan die bal `n bietjie wyer speel om hulle in besit te stel.”

Hy sê die aanwinste Smit, Greyling en Kitshoff bring baie ervaring na die span.

Die klub het `n trotse geskiedenis het nou die kans om te toon wat daar in hom en Namibiese rugby steek, sê Nel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.