Wanneer begin die Curriebekerreeks?

Dit was een van daardie dae waarna jy werklik uitgesien het, die dag waarop die bepalings van die Curriebekerreeks uitgereik is.

Jy het jou hele winter daaromheen beplan, en die belangrikste Saterdae is afgemerk op die almanak agter die kombuisdeur wat jou ma-hulle by die slagter gekry het.

Dit was in die dae voordat spanne diere- en ander name gehad het, toe daar net een trui vir elke span was, toe stadions nog die name van oudspelers of beamptes gehad het óf van die voorstad waarin hulle geleë was.

Dit was die dae toe spanoefeninge nog vir die publiek oop was, toe spelers nog met elke Jan Rap en sy maat kon praat, en toe afrigters se taak was om af te rig en hulle byna nooit in die kollig was nie.

Maar daardie dae is verby. Die klem het jare gelede al verskuif en al wat van jou drome oorbly, is om jou kinders en kleinkinders van Frik, Naas, Piet, Mof, Carel Doep, Morné, Danie en Liefling  te vertel.

Ook van die Curriebeker-eindstryd in 1970, toe Noord-Transvaal teen Griekwas in Kimberley gegly het, toe Transvaal en Noord-Transvaal in 1971 gelykop gespeel het en toe Noord-Transvaal in die sewentigerjare oorheers het; oor die Westelike Provinsie se goue jare in die tagtigs, toe Natal in 1990 vir Noord-Transvaal op Loftus Versfeld geklop het, toe Transvaal in 1993 en 1994 oorheers het, en toe die Vrystaatse Cheetahs in 2005 die Blou Bulle geklop het.

Vanjaar se Curriebekerreeks begin Vrydagaand en word binne tien weke afgehandel.

Dis afgewater, en die Springbokke speel in die Rugbykampioenskapreeks. Die Cheetahs (hulle het darem ook ʼn span in die Curriebekerreeks) en die Kings speel ook weer in die Pro14-reeks en ʼn rits spelers het boonop koers gekies Japan toe of oorsee hul heil gaan soek.

Ja, die televisiestasie wat vandag feitlik al die rugby uitsaai, het ’n week gelede die belangstelling met ʼn baie mooi advertensie probeer prikkel, maar dit sal nie veel help nie. Die reeks het jare gelede al begin verdof.

Nie net hier nie, maar ook oorsee is daar ʼn algehele klemverskuiwing.

Dus, wanneer die Blou Bulle Vrydagaand om 19:00 vanjaar se reeks teen die vrystaat Cheetahs afskop, dink maar gerus terug aan die goue jare, want dis byna al wat daarvan oorgebly het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gertryda ·

Ja dis so bitter jammer
Maar niks in SA bly dieselfde nie

Wesley ·

Dit is ons eie skuld. Die unies het gelees in ons kykerspatrone en curriebeker stuk vir stuk afgewater. Die derbies in superrugby opgehef want dit is al wat ons wou kyk en teen curriebeker is dit al afgesaag, en met die opgeblaasde internasionale rugby kalender en ons honger vir dit het dit maar net n nagedagte geword. Curriebeker rugby is dood, lank lewe die Curriebeker.

Bob ·

At ek is so gat-vol vir slap rugby. Verstaan nie die Afrikaners se opsesie met die alewige oor geskrumery nie. Wat n sotlike sport is dit tog nie!

JJ ·

Sedert die Curriebeker Bok-loos geword het, het toeskouergetalle afgeneem. So ook TV kykergetalle. Die span wat die SA konferensie wen (Superrugby) behoort daarvoor die Curriebeker te kry. Terloops, ek is nie n Lion ondersteuner nie maar hulle vesien dit die laaste 3 jaar as SA se beste span

Callie ·

Lions beste span in SA en nog steeds swak. Direkte gevolg van Curriecup wat nie meer bestaan. Het kwotas reg deur die sisteme gekom en curriecup op verdienste gespeel was daar nie kwotas. Dan het SA dalk iets gewen ook. Gaan kyk hoe sterk was curriebeker in tyd toe bulle superrugby gewen het

Dries ·

Die situasie mbt die Curriebeker is werklik ‘n hartseerverhaal, is daar nie ‘n manier waarop die Curriebeker na sy vroeere glorie kan herrys nie?

Bob ·

At ek is so gat-vol vir slap rugby. Verstaan nie die Afrikaners se opsesie met die alewige oor geskrumery nie. Wat n sotlike sport is dit tog nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.