Wanneer die All Blacks speel, kan jy maar skep

Die ondersteuners (of was dit maar net ons in die media?) het oor die prys van toetskaartjies op Nuweland gekla totdat hulle blou is, maar wanneer die All Blacks speel, word dit steeds binne ʼn japtrap opgeraap.

Die sowat 22 000 kaartjies wat beskikbaar gestel is vir die toets in die Rugbykampioenskap op 7 Oktober op Nuweland tussen die Bokke en All Blacks is binne ʼn uur uitverkoop.

Daar was lang toue en dit het ʼn mens laat terugdink aan die ou dae toe ondersteuners die aand voordat kaartjies beskikbaar gestel is, buite die stadion “kamp” opgeslaan het om ʼn toetskaartjie te bekom. Kampstoele, komberse, slaapsakke en warm flesse koffie om die koue te verdryf … Jy was beperk tot net twee kaartjies per persoon en dis hoekom pa, ma en seuns soms ure lank getou het.

Toe die pryse van die Nuwelandtoets onlangs aangekondig is, was daar ʼn groot gebrom, want dit was heelwat duurder as vir ander toetse. Die pryse het gewissel tussen R150 vir ʼn staanplek en R950 vir die duurste sitplekke. Die kans is ook goed dat die All Blacks reeds Saterdag in Albany die reeks kan beklink as hulle die Bokke sou klop. Maar dit maak nie saak nie, want wanneer die Kiwi’s speel, kan jy maar pap skep.

Dis ook nie net in Suid-Afrika waar die All Blacks die grootste trefkrag is nie. Die All Blacks (en Wallabies en Bokke) speel aan die einde van die jaar in Cardiff se Millennium-stadion (dit heet mos nou die Principality-stadion) teen Wallis. Die kaartjies vir die All Blacktoets is reeds lankal uitverkoop.

Die kaartjies het tussen 75, 85 en 95 Britse pond gekos (R 1295, R 1 468 en R 1641). Vir die toets teen die Wallabies en Bokke (daar is nog kaartjies oor) kos dit 45, 60 en 70 pond (R777, R1 036 en R1 209).

Dis hoekom dit byna onverstaanbaar is dat die toets Saterdag teen die Bokke in Albany se North Harbour-stadion (dis net ʼn paar kilometer buite Auckland) gespeel word.

Daar kan net 25 000 toeskouers in QBE-stadion in Albany rugby kyk en om die draai in Auckland kan 50 000 gehuisves word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.