Wanneer die bolle gerol word

Amanaki Mafi (Foto Facebook Fox Sports Rugby).

Wanneer twee rugbyspelers mekaar ná ʼn wedstryd (gewoonlik vroegoggend) in ʼn kroeg pak, moet jy maar eenkant toe staan.

Niemand kondoneer ʼn bakleiery of wil dit enigsins goedpraat nie, maar dit is so oud soos die berge. Dit kom op alle vlakke voor en dit gaan weer en weer gebeur, want die koppe haak mos maar uit en brandewyn het mos nie brieke nie, veral nie ná ʼn nederlaag nie.

Die jongste voorval was dié van die Rebels se vurige agtsteman, Amanaki Mafi, wat Sondagaand in die tjoekie in Dunedin deurgebring het. Dit het gevolg nadat hy sy spanmaat Lopeti Timani glo aangerand het nadat die Rebels Saterdagmiddag met 43-27 deur die Highlanders geklop is en hul Superrugby-uitspeelkanse byna daarmee heen was.

Die Rebels het nog ʼn kans gestaan om tot die kwarteindronde deur te dring as die Jaguares die Sharks Saterdagmiddag op Kingspark geklop het. Maar die Sharks het gewen en die Rebels se drome was vernietig.

Noudat ek daaraan dink, dalk het die Rebels deurnag “wakker” gebly om na dié wedstryd te kyk, en toe het die beskuldigings seker maar oor en weer gevlieg.

Mafi het Maandagoggend in Suid-Dunedin die hof verskyn en hy is op eie verantwoordelikheid vrygelaat totdat hy op 3 Augustus weer in die hof moet verskyn. As hy skuldig bevind kon word, kan hy tronkstraf van tot vyf jaar opgelê word.

♦ Soms kan die marakkas wat die spelers aanvang, snaaks wees, soos ʼn voorval in 2006 toe die All Blacks-senter Tana Umaga sy Hurricanes-spanmaat Chris Masoe só hard met ʼn vrou se handsak geslaan het, dat hy in trane uitgebars het. Bygesê, die voorval het om 07:00 in die Jolly Poacher-kroeg in Christchurch gebeur, die oggend nadat die Crusaders die Hurricanes in die Super14-rugbyeindstryd met 19-12 geklop het.

Masoe het oor sy eie voete geval, maar hy aangeneem dat hy met opset gestamp is. Hy het wild met sy vuiste begin swaai en Umaga het tussenbeide gespring en Masoe met die handsak oor die kop geslaan. Dit was glo so hard dat die eienaar van die handsak se selfoonskerm gekraak het.

Nog ʼn skreeusnaakse voorval was jare gelede toe die Arosa Sri Lanka-rebellekrieketspan deur Suid-Afrika getoer het. Die span is verinneweer en die kookpot van frustrasies en emosies het begin oorborrel.

Tot een aand toe Nirmal Hettiarachchi (ʼn baie maer, bebrilde aanvangskolwer) deur die effe groter naatbouler Lantra Fernando toegetakel is. Athol McKinnon, wat die spanbestuurder was (hy het in sy jonger dae vir Oostelike Provinsie stut gespeel), het geskree: “Piet, los hulle,” toe ek tussenbeide wou tree.

Ná sowat twee minute, toe albei spelers se hemde geskeur was en menige vuishoue net winde gesluk het, het hy hulle met sy hamme van mekaar weggetrek.

“Genoeg is nou **%#* genoeg,” het hy met sy diep stem gebulder en hulle het hom met groot oë aangekyk. Net daar was alles verby en toe het die span weer begin sing, wat hulle wonderlik kon doen ‒ baie beter as wat hulle krieket gespeel het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dewald ·

Maroela vergeet van Rugby. Spandeer meer van jul tyd aan behoorlike presteerders. Rugbyspelers is n sub-spesie wat geen publisiteit regverdig nie. Wat van ouens soos Anderson en Binder??

Ai Dewald ·

Moenie lees nie. Daar is baie ander brokkies nuus wat jou dalk sal interesseer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.