Wanneer die Leeus toer, is daar perde

Een van Tom van Vollenhoven se beroemde driee teen die Britse Leeus van 1955. Argieffoto.

Toe die Britse Leeus-toerspanne toeka deur Suid-Afrika getoer het, was daar altyd ʼn boek of twee oor Suid-Afrika en hul wedervaringe geskryf.

Die span was gewoonlik twee maande in Suid-Afrika en het 25 wedstryde in elke groot dorp en stad gespeel en het meer besienswaardighede as Tommie die toeris besoek.

Hulle het daagliks ʼn skrapse toertoelaag van slegs 50 pennies gekry om te verseker dat hulle hul amateurstatus behou, maar hulle het geen onkoste gehad nie, want hulle was van alles voorsien: die beste hotelle, toerbusse, vliegtuie en elke week ʼn paar onthale.

Wie kan daarmee spog dat hy binne ʼn paar weke volstruis kon ry, ondergronds in ʼn regte goudmyn was, ʼn bok of twee kon skiet (en later die biltong kon verorber), die Victoria-waterval besoek het, in die Kruger-wildtuin was, in Amerikaanse resiesmotors om Kyalami gejaag het, in Durban, Oos-Londen, Port-Elizabeth en, as hulle dapper genoeg was, in Kaapstad kon swem?

Hulle was bo-op Tafelberg, het wynplase besoek, op bootreise en ja, boonop het hulle rugby gespeel.

Die toere het gewoonlik vir groot opslae gesorg, want dit het klokslag gebeur dat van hul sleutelspelers, soos Richard Sharpe in 1962 en Barry John in 1968, glo met opset deur Suid-Afrikaners beseer is om die Springbokke ʼn kans in die toetsreeks te gee.

Ja, dis wel waar dat Mannetjies Roux Sharpe se wangbeen met ʼn gevaarlike duikslag ʼn week voor die eerste toets ingeduik het en dat John sy sleutelbeen voor die toetsreeks gebreek het.

Maar as jy darem al jou eiers in een mandjie sou plaas, soos die uitdrukking lui, speel jy mos met vuur.

Tussen 1955 en 1974 het die Leeus gewoonlik 25 wedstryde gespeel, wat wedstryde teen die destydse Rhodesië, Suidwes-Afrika en self Oos-Afrika ingesluit het.

In 1955 het die Leeus teen die Vrystaat in Kroonstad gespeel, hulle was in Aliwal-Noord, Salisbury, Kitwe en Nairobi.

Daar is gesê dat Idi Amin glo in die Oos-Afrika-span op die bank was, maar hy het nie op die spanfoto verskyn nie en destyds was daar ook nog nie van plaasvervangers gebruik gemaak nie. Amin het wel rugby gespeel, maar dié was blote fopnuus, soos hul mos nou in die sosiale media sê.

Die Leeus het gewoonlik sewe of agt wedstryde voor die eerste toets gespeel om die regte kombinasies te vind. Dit was dan waar dinge gewoonlik verkeerd geloop het, want dan het die sogenaamde “Dirt Trackers” ­­– dit is soos die nie-toetsspan genoem is – belangstelling begin verloor.

Dan het dit tot groot konsternasie in hotelle gelei, beddens is uit kamervensters gegooi en hotelrekenings (ekstras) is nie vereffen nie.

Sedert 1997 het duisende ondersteuners ook die toere meegemaak.

Dit is hoekom aanstaande jaar se Britse en Ierse Leeus-toer so belangrik en noodsaaklik is, want dit is die reddingsboei vir Suid-Afrikaanse rugby.

Maar wees ook maar seker dat daar weer ʼn omstrede voorval of twee gaan wees, al word daar net agt wedstryde op toer gespeel.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae