Wanneer gaan die Bokke begin oefen?

Rassie Erasmus is ʼn rugbyafrigter wat alles haarfyn beplan – elke dag, elke uur, elke minuut.

Hy bly byna daagliks deur middel van ʼn App in kontak met die Superrugbyspelers en ook van die spelers wat oorsee speel. Hy hou hulle op die hoogte van wat hy van hulle verwag. Wat kommerwekkend is, is dat die aspirant-Bokke nog nie een minuut saam geoefen het nie.

Die span wat op 2 Junie teen Wallis in Washington speel, sal dalk net twee keer saam oefen voordat die spelers die Woensdag na Amerika vertrek. Die span wat Engeland op 9 Junie pak, sal darem ʼn paar keer saam kan oefen.

Onthou gerus dat Erasmus nie dieselfde patroon as Allister Coetzee gaan volg nie. Van die oorsese spelers het twee, drie jaar laas in Suid-Afrika gespeel en sal opnuut moet inpas. Ook sal hy die nuwe denkrigting van die Bulls-spelers moet verander (asook dié van die Lions).

Erasmus het reeds drie belyningskampe gehou wat deur die plaaslike spelers bygewoon is, maar hoeveel balle is geskop en hoeveel keer is daar geskrum en lynstane ingeoefen?

Dalk is ek van die ou skool, maar wedstryde word nie op papier of op ʼn rekenaar gewen nie, maar op die veld.

Wat doen Engeland, wat oor ʼn rapsie minder as twee weke na Suid-Afrika sal reis vir die reeks van drie toetse op 9, 16 en 23 Junie teen Suid-Afrika?

Die afrigter, Eddie Jones, het reeds verlede week sy groep aangewys en Maandag sy soveelste oefenkamp gehou. Boonop speel die Engelse in ’n opwarmwedstryd teen die Barbarians voordat hulle na Suid-Afrika toer.

Wat doen die All Blacks, wat in drie toetse teen die Franse speel?

Die afrigter, Steve Hansen, is van Sondag af besig met die eerste van twee driedaagse oefenkampe in Auckland en dit word opgevolg met die tweede oefenkamp aanstaande naweek in Christchurch. Die aspirant-All Blacks het gereeld in die Superseisoen op Maandae saamgetrek.

Maar wat dan van die Superreeks?

Dis nie vir die Nieu-Seelanders nou belangrik nie, want die spelers woon die oefenkampe by, want dis in nasionale belang.

Die Chiefs speel juis Saterdag in Durban teen die Sharks, maar Anton Lienert-Brown, Damian McKenzie, Nathan Harris en Brodie Retallick is ná die kragmeting met die Stormers terug Nieu-Seeland toe om saam met die All Blacks te oefen. Hulle speel dus nie teen die Sharks nie.

Dís hoekom die All Blacks eerste op die wêreldranglys is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Albert ·

Dit kan nie n probleem wees nie as hy die beste spelers kies nie. In die ou dae het die Springbok span Woensdag aand by mekaar gekom en Saterdag n bars hou gespeel omdat daar nie patroon rugby gespeel is nie maar die sutiasie. Onthou n Springbok speler is die beste speler in sy posisie in die land en kan rugby speel

Henry ·

In die kol Albert!
Die kapteinsoefening Vrydagoggend voor die wedstryd, was gewoonlik die belangrikste gedeelte van die voorbereidingsproses.

Robert ·

Pieter, weet jy wat is in die sogenoemde belyning kamp gedoen. Was dit nie ook ‘n oefen kamp met ‘n ander naam nie. moenie na die AB’s kyk hoe dinge gedoen word nie Rassie het sy eie manieren hy was gewoonlik nog suksesvol ook.

Petrus ·

Bokke moet oefen, want met die oorsese spelers is daar te veel spelers met verskillende spelpartone van verskillend afrigters. In die ou dae soos verwys word het alle spanne so geoefen en was dit nie ‘n probleem nie. Nou word spelers betaal en speel nie meer vir trots nie, daarom is oefeninge en wedstryde voor toetse noodsaaklik. Ongelukkig ook speel baie vir die GROOTSKERM en model tydskrifte om dubbele salris te verdien, daarom dat SA so swak is deesdae. Afrigters kies diesulkes en nie fikse en op vorm spelers nie. Hulle kry ook geld van spelers wie se foto’s in tydskrifte en advertensies gebruik word. Geld maak rugby dood!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.