Wanneer gaan Powell se hande begin jeuk?

Neil Powell (Foto: ur7's.com)

Neil Powell (Foto: ur7’s.com)

Dis een van die moeilikste besluite wat `n rugby-afrigter (of keurders) moet neem: Wanneer om hul lojaalste en mees ervare speler(s) weg te laat wanneer Vader Tyd hulle begin inhaal.

Die Springboksewes se afrigter, Neil Powell, sal voor aanstaande seisoen dié besluit moet neem. Gaan hy volhard met spelers soos die 32-jarige Frankie Horne?  Is dit nodig om aan die span te karring?

Die Blitsbokke het immers tweede in die Wêreldsewesreeks geëindig, maar hul agteruitgang in die laaste twee toernooie op Twickenham in Londen en in Glasgow was opvallend.

Powell staan voor `n uiters moeilike keuse, want die Olimpiese Spele vind aanstaande jaar in Rio de Janeiro  plaas. Horne-hulle was van die getrouste luitenante wat die span laat kwalifiseer het.

Ek glo dat die Blitsbokke steeds in staat is om `n medalje te wen. Maar goud?

Die gewese Engelse afrigter, Ben Ryan, het nuwe lewe in Fidji se sewes-span geblaas. Hulle het baie meer dissipline, is fikser, maar het steeds nie hul flair verloor nie. Toe die Fidjiane Sondag as kampioen gekroon is, het die spelers Ryan skouerhoog opgetel.  Nóú eers glo hulle en koop hulle in wat hy op die swartbord uitgestippel het wat hy wil bereik.

Dan het Mike Friday goud ontdek met die Amerikaanse Eagles. Hulle het my nog nie heeltemal oortuig nie, maar met hope vaart en flair en `n paar menere wat die harde werk voorlangs doen, kan  hulle nie meer onderskat word nie.

Die All Blacks onder die legendariese Gordon Tietjens bly altyd `n faktor en Engeland het in die laaste ses weke al hoe sterker na vore getree … en dan kan die jong Wallabies, veral met `n paar Super-spelers, hier en daar verras .

Die vraag is: wie laat jy weg? Veral as jy Bryan Habana, Francois Hougaard en Cheslin Kolbe in jou agterkop het vir die Olimpiese Spele? Die bus is reeds vol, meneer…

Die gewese Bok-afrigter, Nick Mallett, is nou nog spyt nadat hy sy vingers in 1998/’99 verbrand het deur Gary Teichmann as kaptein (en speler) met Bob Skinstad te vervang. Ek was daar. Daar was groot ontsteltenis, `n geskindery en die span-dinamika was flenters  voor 1999 se Wêreldbekertoernooi .

Teichmann se insluiting in 1996, toe hy deur die Bok-afrigter André Markgraaff in die plek van Francois Pienaar gekies het, het in sekere dele van die land opslae gemaak, maar dit was die regte besluit op die regte tyd.

Teichmann het voortgegaan en die Bokke in 26 toetse aangevoer en `n wenpersentasie van 72% gehandhaaf … voordat Mallett se hande begin jeuk het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.