Wanneer spanmaats mekaar die dag timmer

Bismarck du Plessis – slaan sy spanmaat tydens opwarming. (Foto: YouTube)

ʼn Mens moet hare op jou tande hê wanneer jy teen Bismarck du Plessis speel, en nou kan een van sy Montpellier-spanmaats Mohamed Haouas dieselfde van die Springbokhaker getuig.

Die vurige Du Plessis, wat nog nooit bang was om die ander wang te draai nie, en Haouas, wat net soos Bismarck se broer, Jannie, ook vaskop speel, het mekaar Vrydagaand getimmer terwyl die spanne opgewarm het voor die Franse Top14-kragmeting met Racing92.

Hul spanmaats moes die spelers uitmekaar hou en op die video wat nou oral opduik, kan daar duidelik gesien word hoe een van Haouas se steelhoue Du Plessis tref.

Montpellier het voortgegaan en die wedstryd met 41-3 gewen, met albei die Du Plessis-broers in die opdrafspan.

Haouas was nie in die 23-tal nie en ʼn mens wonder of dit nie sy frustrasies laat oorborrel het nie, want Montpellier het sewe Suid-Afrikaners, Francois Steyn, Jan Serfontein, Ruan Pienaar, die twee Du Plessis-broers, Paul Willemse en Nico Janse van Rensburg in die beginspan gehad, asook die Wallaby Jesse Mogg, die All Black Aaron Cruden en twee Fidjiane Nemani Nadolo en Timoci Nagusa.

Boonop het die span ʼn Nieu-Seelandse afrigter, Vern Cotter, wat vir Skotland afgerig het, en dus maak die Bybelverhaal van die toring van Babel soveel meer sin wanneer daar spanpraatjie gehou word.

Dat spanmaats mekaar pak, is niks nuuts nie.

Die twee Brooke-broers, Zinzan en Robin, het mekaar dik getik terwyl albei All Blacks was.

Jare gelede in Pretoria het die Carltonbeker-wedstryde tussen Weermag en Yskor altyd vir vuurwerk gesorg wanneer Kleintjie en Gert Grobler teen mekaar gespeel het.

Bloed, bloed en bloed …

Só ook het Morné du Plessis vir Kleintjie Grobler in ʼn Springbokproefwedstryd katswink geslaan.

Die twee WP-stutte, Tiny Neethling en Gert Kotze,  het hul vriendskap in die kleedkamer vir ʼn Springbokproefwedstryd gelos en mekaar bloedneus geslaan net om die aand albei in die Springbokspan teen die Franse ingesluit te word.

Só ook het Jan Pickard en Salty du Rand (wat die aangewese Springbokkaptein vir die toer na Nieu-Seeland en Australië in 1956 was) mekaar die aand voor die spanaankondiging bygedam. Du Rand is van die kapteinskap ontneem en Basie Vivier is in sy plek (met katastrofiese gevolge) as kaptein aangewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

bloues ·

Sou ek n Afrigter wees, sou die moeilikheid maker vir n paar wedstryde nie speelkans gegun word nie en dus ook nie wedstryd gelde verdien nie.

Dis n skande

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.