Waratahs se ‘Ysman’ doen dit weer

Hulle noem Bernard Foley nie verniet die “Ysman” nie.

Dié Waratahs-losskakel mag dalk nie heel voor in die tou gestaan het toe aanvallende vaardighede uitgedeel is nie, maar hy het al op sy eentjie ʼn hele rits wedstryde gewen; nie net vir die Waratahs nie, maar ook vir die Wallabies.

Vrydag in Melbourne het hy sake vir die Rebels, en die Suid-Afrikaanse Superrugbyspanne, verder omgekrap toe hy die ‘Tahs tot ʼn oorwinning van 31-26 oor die Rebels gestuur het.

Die Waratahs het nou 39 punte ná 14 wedstryde en is net een punt agter die Lions, terwyl die Rebels, wat ʼn bonuspunt verdien het, nou op 35 staan.

Neem in gedagte dat die Lions 40 punte het en die Sharks 28 (met laasgenoemde wat net 13 wedstryde teenoor die 14 van bogenoemde spanne gespeel het).

Dit beteken dat die Lions nie verbygesteek mag word deur die Jaguares in hul afdeling nie, want dan kan die Waratahs en Rebels baie maklik bo hulle op die algehele puntelys eindig, met nare gevolge om nie vir die uitspeelrondes te kwalifiseer nie.

Die Rebels was met 10 minute oor nog met 26-17 voor, maar die Waratahs het toe na vyfde rat oorgeskakel en twee verdoelde drieë gedruk om die Rebels te kelder.

Foley, altyd koel en kalm soos sy bynaam aandui, se onderskepdrie het die Rebels finaal gekelder.

Puntemakers ‒

Waratahs (17) 31: Drieë: Taqele Naiyaravoro, Will Miller, Ned Hanigan, Bernard Foley. Doelskoppe: Foley (4). Strafdoel: Foley.
Rebels (10) 26: Drieë: Dane Haylett-Petty, Michael Ruru. Doelskoppe: Reece Hodge (2). Strafdoele: Hodge (4).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.