Was dit die beste en swakste spanne?

Sir Brian Lochore crop (Foto 3news.co.nz)

Sir Brian Lochore (Foto 3news.co.nz)

In Nieu-Seeland heers daar ʼn groot debat of die huidige All Black-span die beste ooit was. In Suid-Afrika word daar na die huidige Bok-span as een van die swakste nóg verwys.

Dis eintlik maar soos om appels met pere te vergelyk, want die reëls het baie verander, speeltoestande en afrigting het baie verbeter, jare gelede was dit amateurspelers wat daagliks hulle brood en botter verdien het wat nou teen heeltydse beroepspelers opgeweeg word. Die kondisionering van die spelers is baie beter, hulle het baie meer vaardighede, is baie groter, sterker en fikser.

Die huidige All Black-span is op die randjie van  wêreldrekord van 18 agtereenvolgende toetsoorwinnings. Hulle sal dit na alle waarskynlikheid aanstaande Saterdag laat spat wanneer hulle teen die Wallabies, wat as een van die swakste Australiese spanne in jare beskryf word, speel.

Terloops, die rekord van 17 agtereenvolgende toetse word deur die All Blacks van 1965/’69 en ook 2013/’14 en Nick Mallett se Bokke van 1997/’98 gehou

Die huidige All Blacks het die eerste oorwinning van hul huidige strooptog verlede jaar in Augustus behaal toe hulle die Wallabies getroef het. Binne 13 maande het die Blacks 17 toetse gespeel, en almal gewen. Teen Namibië, Georgië en Tonga, die Wallabies (4 keer), die Bokke (3 keer), Argentinië (3), Wallis (3) en Frankryk (1).

Hulle sal die rekord van ondermeer die twee oud-kapteins Wilson Whineray en Brian Lochore se All Blacks-spanne laat spat, wat tussen 18 September 1965 en 25 Julie 1970 ook in 17 agtereenvolgende toetse onoorwonne was, maar oor ʼn tydperk van vyf jaar! En Richie McCaw was die kaptein tussen Junie 2013 en Junie 2014.

Die groot verskil is dat die destydse All Blacks in die 1960s hul rekord opgestel het teen die Britse Leeus (4 ), Wallabies (3), Frankryk (4), Wallis (2), Engeland (1), Skotland (1), Ierland en die Bokke (albei 1) .

Voeg daarby dat die All Blacks onoorwonne op hul toer van 17 wedstryde in 1967 deur Brittanje en Frankryk was en al tien wedstryde op hul toer in Suid-Afrika gewen het voordat hulle deur die Bokke op Loftus geklop is.

♦  En die Bokke? Wat van die tydperk tussen 1963 en 1965? Die Bokke het in 1963 die reeks teen die Wallabies in Suid-Afrika gedeel, is in 1964 in Springs deur die Franse geklop, het die toetse op die  kort toer in 1965 na Ierland en Skotland (asook  paar provinsiale wedstryde) verloor en het slae gekry in albei toetse in 1965 teen die Wallabies en is deur die All Blacks met 3-1 in die reeks in Nieu-Seeland geklop. Hulle het boonop  hele paar provinsiale wedstryde verloor.

Was dit die swakste Bok-span nog? Met legendes soos Avril en Abie Malan , Dawie de Villiers, Jannie Engelbrecht, John Gainsford, Doug Hopwood, Mannetjies Roux, Frik du Preez, Mof Myburgh en Jan Ellis?

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico K ·

1974 se Springbokke moet ook seker iewers in die tou staan vir die prys as swakste span.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.