Was dit Kingspark se swakste Superwedstryd?

As daar al ʼn swakker Superwedstryd op Kingspark gespeel is as Saterdagaand toe die Sharks en Rebels met 9-elk gelykop gespeel het, moet dit in 2004 gewees het toe die Reds met 6-5 teen die Sharks gewen het.

Die wedstryd Saterdagaand het ʼn mens laat wens jy kan eerder weer na die vrotsige stryd tussen die Bulls en die Cheetahs kyk, wat dit voorafgegaan het. Of na die  Bulls se neerlaag teen die Sunwolves, wat darem ordentlike aanvallende rugby gespeel het.

Daar is Saterdagaand twee spelers, een aan elke kant, met ʼn rooikaart van die veld gestuur. Die Rebels het 18 strafskoppe afgestaan waaruit die Sharks nie kon munt slaan nie.

Daar was ook drie geelkaarte aan die Rebels se kant, die twee deur hulle skrumskakel en kaptein Nic Stirzaker wat beteken hy is met die tweede met ʼn rooikaart afgestuur. Albei sy geelkaarte was vir die bal afklap.

Die Sharks het die 18 strafskoppe gekry wat die Rebels afgestaan het, 60 losskrums gewen, ook 22 lynstane waarvan vier op die Rebels se ingooi was, en het nie minder nie as tien losgemale hulle besit gemaak – en nie ʼn enkele drie gedruk nie.

Hulle agterlyn is ontwrig deur Kobus van Wyk wat voor die wedstryd onttrek is. Toe het André Esterhuizen in die 18e minuut ʼn rooikaart gekry na hy ʼn teenstander opgetel, deur die horisontale lyn opgetel en op sy kop en nek laat val het. Maar reeds toe was dit maar eina rugby.

Cobus Reinach het op skrumskakel om een of ander rede met sy sewe voorspelers volhard en selde die bal na Curwin Bosch laat loop. Hý kon dus nie dikteer nie. Die paar keer wat Bosch wel die bal gekry het, meestal in algemene spel, het dit gelyk of hy iets sou kon regkry.

Toe Michael Claassen in die laaste kwart vir Reinach vervang het, was daar skielik effens vonk in  die KwaZulu-Natallers se spel.

Puntemakers –

Sharks: (3) 9: Strafdoele: Curwin Bosch 3
Rebels (6) 9: Strafdoele: Reece Hodge 3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.