Was Jordie se ‘skop’ die rooi kaart werd?

Jordie Barrett op pad na die sy drie in die wedstryd. Foto: Trevor Collens/AFP.

Jordie Barrett is in die 28ste minuut van gister se Bledisloebeker-wedstryd met ’n rooi kaart deur die Australiese skeidsregter Damon Murphy van die veld gejaag.

In die helder middagson het Barrett ’n bal suiwer uit die lug gevang, maar hy het sy been opgelig en die onderkant van sy stewel het die Wallabies se Marika Koroibete vol in die gesig getref.

Nou meen die All Blacks dat daar genoegsame versagtende omstandighede is om te verhoed dat die speler hom enige verdere straf op die hals haal.

Ian Foster, Kiwi-breier, het gesê dat die uiteindelike beslissing om vir Barrett van die veld te stuur hom verbaas het.

“Jordie het sy balans verloor en hy het ’n bietjie in die lug gekantel. Hoewel ek begrip vir die skeidsregter se beslissing het, het ons nou die geleentheid om alles mooi te ontleed,” het Foster gesê.

Met Wêreldrugby se reëls en regulasies oor spelerveiligheid amper so lank soos Psalm 119, is dit egter te verstane (vanuit ’n skeidsregter se oogpunt) waarom Barrett van die veld gestuur is: ’n Speler mag immers niks roekeloos en onverantwoordeliks doen nie.

Dave Rennie, die Wallabies se afrigter, stem saam dat Barrett se optrede nie kwaadwillig van aard was nie, maar hy het dit tog verdien om gestraf te word.

“Op grond van die reëls was die beslissing ongetwyfeld geregverdig. Terselfdertyd was dit ’n goeie ding dat die All Blacks net vir 20 minute met 14 spelers moes klaarkom,” het Rennie gesê.

Kobus Wiese stem egter nie met die beslissing saam nie.

“Barrett het die reg om homself te beskerm wanneer hy opgaan vir die bal en sy oë was duidelik op die bal in die lug. Jy kan duidelik sien dat hy nie doelbewus sy teenstander ‘geskop’ het nie,” het die voormalige Springbokslot getwiet.

Rugbypass berig egter dat Paolo Odogwu vir ’n soortgelyke oortreding in 2019 vir ses weke geskors is.

’n Tugkomitee het toe ook bevind dat Odogwu se optrede nie kwaadwillig was nie, maar dat dit wel roekeloos was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter9

Ek dink ook die rooi kaart was dalk die verkeerde beslissing; ek hoop net die Bokke kan vir ‘n slag in kangaroo-land wen. Ons verloor altyd teen ‘n ‘swak’ aussie span, verstaan dit nie.

Abraham

Na my mening was die rooi kaart die regte besluit. Dit is vir my duidleik dat Barrett sy been doelbewus reguit gemaak het in ‘n bepaalde rigting. En hy het gekyk waarheen hy sy been reguit maak. Die tydsbereking wys ook hy het geweet wat hy doen.

Johan

Nee wat daai AB’s kom al vir jare weg met moord. Hulle is slinks en baie goed daarin om dit weg te steek met hulle vernuf..moet nie te veel trane stort as ‘n beslissing “teen” hulle gaan nie, nog vêr in die krediet

Cecilia

Hy spring mooi op in d lug. Bene netjies bymekaar. Toe sien hy d Ausie nader hardliop. Lig sy been reguit in sy rigting. Boooom vol in d gesig.
Goeie besluit mnr d Skeidsregter! NZ is n klomp boelies wat altyd met moord wegkom.
Eks geen fan v enige vd 2 spanne nie. Maar dit was definitief n regverdige besluit.

Elinette

Ag man, die Aussies kan ook nie vat dat hulle so vrot speel nie. Koroibete het direk op Barrett afgestorm … en die prys daarvoor betaal. Aussies gedra hulle soms ook soos sokkerspelers …. die ou kleinste insidentjie word opgeblaas tot die GROOTSTE ding denkbaar ………