Was klug die laaste nasleep van debakel?

Dit was eintlik maar ʼn klug dié uitspeelwedstryd om promosie of relegasie tussen Roemenië en Portugal in die reekse van Rugby Europa.

Die tuisspan het die wedstryd in Baia Mare, Roemenië, met 36-6 oorheers.

In ʼn onsinnige nasleep van verlede seisoen se debakel toe drie spanne punte oor die gebruik van onwettige spelers verloor het, moes Roemenië (gevolglik laaste in die reeks om die Rugby Europa-beker) sy status teen Portugal (wenner van die Rugby Europa-trofee) verdedig.

Om ligapunte te verloor oor ʼn enkele onwettige speler, maak darem nie skielik van die tweede sterkste span in die reeks (Georgië was die kampioen) ʼn ooglopende kandidaat vir afskuiwing nie.

Gʼn wonder nie dat Roemenië die geleentheid benut het om nege nuwelinge, insluitend ʼn 18-jarige agterspeler, ʼn speelbeurt te gee.

Desondanks was hy van die afskop tot die eindfluitjie in beheer van die spel, word berig, en het ses drieë gedruk sonder om een af te staan.

ʼn Mens wil vertrou dat Rugby Europa nou sy huis in orde het, en dat dié wedstryd die laaste negatiewe uitvloeisel van sy kleitrappery was.

♦ In Krasnodar het Rusland onverwags ver teen Namibië gewen, toe die tuisspan met 47-20 baas was (rustyd 19-6).

Daar is gemeen dat die stryd tussen die twee Wêreldbeker-deelnemers meer gelykop sou verloop, maar luidens berigte het die Biltongboere bra halfhartig gespeel, en het die Bere sake uit die staanspoor oorheers.

Die wenspan het sewe drieë teen twee gedruk.

TC Kisting en Darryll de la Harpe het Namibië se drieë gedruk en PW Steenkamp het albei verdoel. Cliven Loubser het twee strafdoele op die telbord geplaas.

♦ Die gewese Ikey-afrigter Kevin Musikanth se Israeli-span het sy 100ste amptelike toets oortuigend gewen deur die Moeflons in Pafos, Ciprus, met 34-22 in Afdeling 1 Suid van die Rugby Europa-kampioenskap te klop.

♦ In Afdeling 1 Noord het Oekraïne die tuisspan in Szaszhalombatta, Hongarye, met 48-24 verslaan, en tot dusver albei sy wedstryde in dié reeks gewen.

Oleg Kosanef (linkervleuel) het 26 van die wenspan se punte aangeteken. Hy het ʼn drie gedruk en met drie doelskoppe en vyf strafdoele geslaag.

♦ Serwië het Slowakye met 37-10 in Afdeling 2 Suid van die reeks geklop, nadat die rustydtelling in Bratislava, Slowakye, tien elk was.

Aleksandar Andrić (skrumskakel) het 20 van die wenspan se punte met twee elk drieë, doelskoppe en strafdoele behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.