Was vier assistent-afrigters vir Bokke dan nodig as twee nou genoeg is?

Franco Smith – moet nou ook na die verdedigingsaspekte omsien (Foto You Tube)

Beplanning, of liewer die gebrek daaraan, is een van die vernaamste doodsteke van moontlike Springboksukses. En nou steek dit weer kop uit.

Ons hoor nou by die Bokafrigter Allister Coetzee dat hy en sy twee oorblywende adjudante uit vier, Matthew Proudfoot en Franco Smith, mans genoeg is om die Bokke vir die laaste twee toetse voor te brei.

Twee van die vier assistent-afrigters van die Springbokke sal ná Saterdag se toets teen Frankryk nie meer deel van die huidige toer wees waar twee toetse teen Italië en Wallis nog voorlê nie.

Hoewel dit lank reeds bekend is dat Johann van Graan ná Saterdag se Franse toets by Munster as direkteur van afrigting inval en dat Venter nie beskikbaar sal wees nie vanweë sy oorvleuelende belange met die verdedigingsafrigting by Italië, bly Coetzee, Proudfoot en Smith agter.

Hulle sal hulle man staan, meen Coetzee.

As dit so is, hoekom was Proudfoot en Smith hoegenaamd tot nou deel van die afrigtingsopset?

ʼn Mens ys as jy dink aan die deurmekaar toestand van die agterlyn waar vaardigheid en aanval Smith se verantwoordelikheid was; en die skrums wat Proudfoot net eenvoudig nie kon regkry nie en wat sy nasionale afrigtingstoekoms glo mag beïnvloed.

Van Graan se verantwoordelikheid was die lynstane, en dit was met die uitsondering van toe Malcom Marx die kluts met sy ingooiwerk kwyt was, deurlopend die Bokke se beste spelfaset. Proudfoot sal nou dié faset ook behartig terwyl Smith na die verdediging sal omsien.

Ook Brendan Venter se verdedigingsafrigting was na die talle drieë wat sedert die aanvang van die Rugbykampioenskap afgestaan is, duidelik nie waffers nie.

Wat van Jacques Nienaber, wat al jare lank as verdedigingsghoeroe wêreldwyd aansien geniet? Hy is  as SA Rugby se hoëprestasieafrigter aangestel en is soos Rassie Erasmus klaar by Munster.

Hoekom is hy nie nadergetrek nie? En ook: Sou ʼn woordjie van Coetzee met Erasmus, wat Europese rugby ken, nie dalk ook die moeite werd gewees het nie? Of is die verhouding tussen die twee veel erger as waaroor bespiegel word?

ʼn Mens wil jou hande in die lug gooi terwyl spelers, waaronder ʼn paar goeies, vir die wolwe gegooi word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan du Toit ·

Ken jy van hardkoppig en weier om na raad te luister. Dan gee ek julle Allistar Coetzee

Frans C ·

Daar is een ding wat ek glad nie kan verstaan nie en dit is hoekom daar soveel afrigters hoegenaamd is.

Beteken om Springbok dan nie meer dat jy die beste in jou posisie is nie.Dat jy alles beter kan doen as die volgende ou.Jy het nie nodig dat ‘n ander ou (afrigter) vir jou kom vertel hoe jy moet skop en watter tiepe skop jy onder verskillende omstandighede moet gebruik nie. Hoe jy ‘n bal moet van en uitgee na iemand in ‘n beter posisie,want die goed is van kleinsaf in jou ingedril,deur ouens wat bewys het,dat hul nie net kan praat,maar ook kan doen.

En dit geld mos vir elke posisie.Wat dan oorbly ,is taktiek en spelpatroon,wat by teenstanders en omstandighede ,aangepas en gewysig word. Vandag word die spel gespeel volgens ingedrilde bewegings en as die nie uitwerk nie,of die teenstanders dit uitpluis,val die hele spulletjie plat,soos ‘n mislukte resep en val die koek plat en beland in die asblik.

ChrisE ·

Ek is nie ‘n slim ou nie. Maar my somme wat ek vir drie jaar in standerd sewe geleer het het my die eenvoudige optel en aftrek beginsel geleer. As jy baie vreters by die krip het, moet jy voorsiening maak om baie geld te maak om hulle te voer. Daar is te veel aanhangsels by SARU en al die ander organisasies. WP rugby unie bankrot na eenhonderd jaar. Hoe is dit moontlik. Vra maar net.

Arie ·

Sarfu is ‘n grap en dan is hulle verbaas oor die wêreld beker se uitslag

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.