Wat beteken die Bulls en Stormers se nederlae?

Die Chiefs se Mitchell Brown en die Bulle se Jason Jenkins in aksie tydens die kragmeting tussen die Blou Bulle en die Chiefs op Loftus Versfeld. (Foto: Thobile Mathonsi/ANA)

Die kaarte is dié naweek erg deurmekaar gekrap in die Superrugby-reeks, maar in ’n Wêreldbekerjaar kan dit nuwe lewe in kwynende Superrugby plaas.

Nadat die Reds Sondag in Brisbane die Brumbies met 38 – 14 vir ʼn bonuspuntsege geklop het, het hulle hul aanspraak in die Australiese afdeling verstewig om later vanjaar saam met die Waratahs die Aussies se vlag in die uitspeelrondes te laat wapper.

Die grootste skok is Saterdag op Loftus Versfeld deur die “sukkelende” Chiefs gelewer toe hulle die lustelose Bulls met 50 – 26 verguis het.

Vyftig punte op Loftus? Ja, ʼn mens het dit half en half van die Crusaders in 2017 verwag, maar teen ʼn span wat nog nie vanjaar kon wen nie?

Nadat die Sharks die Rebels met 28 – 14 op Kingspark geklop het, die Stormers met 28 – 34 teen die Hurricanes in Wellington verloor het en die Lions in Singapoer die Sunwolves met 37 – 24 geklop het, lyk die Suid-Afrikaanse puntelys nou so: Lions (6 wedstryde, 18 punte), Sharks (5, 15), Stormers (5, 14) Bulls (5, 13) en Jaguares (5, 9).

Net soos verlede jaar sal die topspan in elke afdeling outomaties deurdring, gevolg deur die volgende vyf spanne wat die meeste punte ingesamel het.

Dit lyk of die Lions in die binnebaan is, maar hulle moet, net soos die Sharks en Bulls nog oorsee toer, terwyl die Stormers reeds in Nieu-Seeland is.

Boonop sukkel die Lions met ʼn ellelange beseringslys en word hul diepte deeglik beproef.

Wat het verkeerd geloop met die Bulls? Het hulle die Chiefs heeltemal onderskat?

Dalk is dit die nodige wekroep om die spelers te laat besef dat hulle maklik van hul troontjie afgestamp kan word, dat hulle nie alles moet glo wat deur die week in die koerante staan nie.

Soos hulle in rugby sê, jy is net so goed soos in jou laaste wedstryd.

Soos ek die afrigter Pote Human ken, sal hy die spelers die koppe was, sonder om hul selfvertroue af te breek. Hulle weet waar hulle verbrou het en net hulle kan dit regstel voordat die Bulls Saterdag in Durban teen die Sharks speel.

Gepraat van die Sharks. Hulle speel direkte rugby, is deurentyd in jou gesig en die skakelpaar van Louis Schroeder en Robert du Preez trek die toutjies. Maar ongeag al die talent, kom dit nog nie heeltemal na vore nie, hulle is te voorspelbaar. Maar wees maar verseker, Sondagoggend gaan jou lyf seer wees wanneer jy teen hulle gespeel het.

Die Stormers het ʼn gulde kans weggegooi om die Hurricanes te klop. Met ʼn amperse Springbokpak en talentvolle agterspelers, is dit onverskoonbaar dat die Stormers nog net nege drieë gedruk het, teenoor die Lions se 25, Sharks (16), Bulls (11) en Jaguares (14).

Jinne mense, dis die minste van al die spanne in die reeks, selfs sewe minder as die Sunwolves, wat van 2021 af nie meer in die reeks speel nie.

Is dit dalk nie nou die regte tyd om Damian Willemse as losskakel kans te gee nie? Is hy swakker as Jean-Luc du Plessis, of speel die afrigter, Robbie Fleck, nie te groot rol met ʼn konserwatiewe spelpatroon nie.

Saterdag in Auckland speel die Stormers teen die Blues, wat stadig maar seker uit die blokke kom.

As hulle weer verbrou, kan dit weer ʼn nagmerrietoer word.

* Die afgelope naweek se uitslae is: 

Vrydag: Blues 33, Highlanders 26.

Saterdag: Waratahs 20, Crusaders 12; Hurricanes 34, Stormers 28; Lions 37, Sunwolves 24; Chiefs 50, Bulls 26; Sharks 28, Rebels 14.

Sondag: Reds 38, Brumbies 14.

* Komende naweek se bepalings (tuisspanne eerste genoem):

Vrydag: Hurricanes t Crusaders; Waratahs t Sunwolves.

Saterdag: Blues t Stormers; Reds t. Rebels; Sharks t. Bulls; Jaguares teen Chiefs.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

marco polo ·

Robbie Fleck is nie ‘n afrigter se agterent nie. Hy moes dalk eers ‘n skolespan afgerig het.

Frans C ·

Dit beteken eeenvoudig dat op die oomblik nie een van Suid Afrika se spanne goed genoeg is om die kompetisie te wen nie.Te veel spanne maak staat op die aankoop van groot name en as die faal struikel die span.

Andreas ·

Frans, kom ons sekondeer vir marco polo, hy het die regte naam, die regte agtergrond, dan stuur ons hom oor die waters om vir ons talent te gaan soek, hy ry daar anderkant met sy luukse busse rond vervoer die talentvolles na een van sy skepe en dan pak hy die tog terug na SA toe aan.

kolla ·

Telling van Bulls-wedstryd is verkeerd, hulle het NOG verder verloor.

Lekker lag ·

En die weer probeer het NOG verder op Loftus verloor. Met springbok pak en al eire…….

kolla ·

“Stormers met ‘n amperse Springbok-pak” Wat ‘n bollie stelling. Van daai voorspelers wat gespeel het sal hoogstens 4 spelers die Bok opdrafspan haal, ie. 2 voorrymanne, PSdu Toit en Kolisi. Eben het nie eers gespeel nie en op slot en onder die losvoorspelers was daar manne wat nie Springbokke is nie en ook nie tans in die “running” is vir Bokke nie, jong laaities.

Deon ·

Skop na die hoek, wen lynstaan, rolmaal oor vir ‘n drie. Skop na die hoek, wen lynstaan…..
Agterlynspelers sukkel om drië te druk teen kwaliteit spanne. Waar is die sidesteps van ouds?

Jerry ·

Ek weet nie wat die stormers nederlaag beteken nie, maar die bulls se nederlaag beteken n lee pawiljoen op loftus!

bolla ·

Ek het gedink dis ‘n groot telling vir Loftus maar blykbaar gebeur dit redelik gereeld. Crusaders het in 2017 ook die nulle met 50+ gekasty. Hulle is eintlik gewoond daaraan.

Koos B ·

Jammer Bulle julle skop al wat ‘n bal is weg onthou sonder die bal is dit nie moontlik om punte te kry nie.

Johan Pretorius ·

Dit beteken maar net dat Rugby in Suid- Afrika agteruit gegaan het net soos die land besig is om vernietig te word deur onbevoegde mense wat in beheer is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.