Wat daarvan as jou naam World Cup is?

John Philip Botha (oftewel ons eie Bakkies Botha) (Foto: YouTube)

Dis een van daardie dinge wat die ondersteuners lelik omkrap, maar waarsonder rugby nie kan voortbestaan nie.

Ons praat hier van geld, geld en geld, die bron van alle kwaad, soos ons in die Sondagskool geleer is.

Ja, daar is baie ander euwels, maar kom ons volstaan by bonde, spanne en klubs wat byna jaarliks hul “geboortereg” nie vir ʼn pot lensiesop nie, maar vir ʼn paar duisend rand verkoop om kop bo water te hou.

Dis hoekom dit effe vreemd is dat Grens se Bulldogs nog nie soos iets soos die Bow Bow Bulldogs of ScruffytoFluffy Bulldogs bekend staan om die spelers se salarisse te betaal nie.

Neem nou maar die voorbeelde van die Go Nuts College Rovers wat verlede jaar in die Goue Bekerreeks saam met Recall Security Bloemfontein Polisie, Seedy Car Sales Vaal Reefs en Gap Management Progress Uitenhage meegeding het.

Wat van die glibberige Vaseline Wanderers wat ʼn paar jaar gelede ook in die reeks gespeel het?

Dis nie net klubspanne nie, maar ook provinsiale spanne, soos die Down Touch Griffons, Tafel Lager Griekwas, iCollege Pumas en Windhoek Draught Welwitchias wat vanjaar in die SuperSportreeks speel.

Dis byna soos byname in rugby. Dink maar terug aan Skaap Forrest, Birdie Partridge, Koei Brink, Ghriespomp van der Merwe, Draadkar de Lange, Popeye Strydom, Cowboy Sanders, Fiks van der Merwe, Koffie Hofmeyr, Spyker Jacobs, Ox Nché, Potlood Pinnock, Jakkals Keevy, Bus Bezuidenhout,Bakkies Botha, Tier Schoeman, Smiley Swanepoel en Os du Randt, om maar net enkeles te noem.

In Nieu-Seeland loop daar ʼn speler rond wat sy alie afgeskrik het toe hy agtergekom het watter name sy pa hom amptelik gegee het.

Sy volle name: World Cup Anthony Manu Samoa Tuiavii.

Dis hoe die 25-jarige Tuiavii deur sy pa geregistreer is ná die Wêreldbekertoernooi in 1991 toe Samoa so goed gevaar het.

Dis gedoen nadat die Samoane Wallis en Argentinië geklop en naelskraap teen Australië verloor het om tot die kwarteindronde deur te dring.

Hy het dit eers op 15-jarige ouderdom agtergekom toe hy vir die een of ander dokument aansoek gedoen het.

En die ironie?

World Cup Tuiavii speel nie eens rugby nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.