Wat gaan aan in Heyneke se agterkop?

imagesCA96EPSY

As jy een honderd present eerlik moet wees, is daar ‘n ernstige kriewel in jou binneste oor die Bokke se wedstryd in die Suncorpstadion in Brisbane Saterdag om 12:05.

Eintlik het ons ons bedenkinge oor die hele Australasiese toer as ons nou blindelings eerlik wil wees.

‘n Boksvol statistiek vertel jou hoekom jy nie hier gewen het nie en die tergende, amper arrogante vraag, duik op: Wat maak julle juis so spesiaal om te dink die “klas van 2013” het dit om hier te wen?

Heyneke Meyer, die guru van kopskuiwe met rugbyspanne, het die laaste paar maande bewys dat daar regtig rigting in Springbokrugby se malhuis is.

Behalwe dat Meyer ‘n sportiewe hardegatgeit het wat hom laat oorleef het na die Bulle, Bulls en Saracens, is hy die soort hoofafrigter wat sy spelers, administrateurs en beamptes in een pakkie laat jel.

Toorwoorde, want Meyer is ‘n visionêr.

Neem sy span van Saterdag as voorbeeld. Dis ‘n span wat moet opdaag  en wat in donkiejare nog nie in tropiese, nat, benoude Brisbane gewen het nie.

Meyer besluit hy kies Kirchner bo Lambie, hy pak Willie le Roux op  vleuel en fluister “sa!” in sy oor.

Dan kies hy Flip van der Merwe op nr.5-slot en laat die jong Simson van die WP, Eben Ezebeth op nommer vier sak.

Hy laat Adriaan Strauss op die bank sit, kies ‘n klaarblyklik moeë dokter Jannie op vaskop; dit terwyl die Aussies ‘n slingervel-agterlyn inspan en James Slipper voorlangs laat kopstamp.

Kom ons staan net ‘n sekonde of wat stil oor die slotpaar. Meyer kies die Bulle se enforcer-slot, (à la Bakkies Botha) op nommer vyf. Dit is tradisioneel die slot wat die lynstaantekens roep, wat die leiding neem by die inslane by die skrums en wat bepaal hoe die volgende lynstaan die bal voer na die agterlyn. Inderdaad die tipe Victor Matfield-profiel. Die denker, met die enigste verskil dat Flip nie eens hierdie rol by die Bulle ingeoefen het nie.

Dan sy keuse om Bismarck op haker te speel. Ons weet almal dat hy en Adriaan soos dag en nag verskil as dit by vaste- en losspel kom. Bismarck is soos die oorlogskip na wie hy vernoem is – rof en onbeskof. Adriaan is die vlugvoetige, plofbare en vaardige haker met finesse. Meyer moet daaraan dink dat die pap ekstra dik aangemaak moet word in die vaste spel en ook by die afbreekpunte, dus is Bismarck sy keuse vir Saterdag.

Dit help ook nie ons draai doekies om nie. Vinnige balbesit van Etzebeth of Van der Merwe, of uit ‘n witwarm skrum, gaan net so min saak maak as wat Duane Vemeulen Will Genia gaan besig hou na ‘n goeie agttal-beweging. Hierdie is dus ‘n wekroep op Ruan Pienaar – wie se vertraagde skoonmaak agter die oond in Mendoza menige ondersteuner na pille laat gryp het – om vinnig skoon te maak by die lynstane en die skrums.

Dit kan die Bokke se voorvoet-balbesit goed befoeter, want die oorspronkilke wildevoël se kuiken, Quade Cooper, is op verdediging net so onvoorspelbaar soos die Johannesburgse Effektebeurs op ‘n Maandagoggend.

Hoe dit ook al sy, Jean de Villiers en die einste Bismarck (as onderkaptein), het ‘n wedstryd en ‘n half op hande.

Hulle hoofafrigter is allesbehalwe konserwatief en stereotiep.

Daar is ‘n taak wat uitgevoer moet word: Wen.

Ons wag.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.