Wat gaan die All Blacks met Sonny Bill doen?

Sonny Bill Williams (Foto: Facebook)

Een têkkel … en nou is die rugbywêreld op sy kop gekeer.

Die Britse en Ierse Leeus het beslis die gaping tussen die All Blacks en die res van die wêreld vernou toe Saterdag se derde toets op Edenpark in Auckland met 15-elk gelykop geëindig het.

Die reeks is met een-elk gedeel en nou spring elke Jan Rap en maat op die wa en sê dat die All Blacks geklop kan word.

Ja, daar is leemtes in die All Blacks se arsenaal ontbloot; en ja, hul stelskopwerk was nie van wêreldgehalte nie; ja, hul besluitneming en dissipline het hulle soms in die steek gelaat en ja, daar was ʼn paar skeidsregtersblapse wat ʼn verskil kon gemaak het.

Maar is daar genoeg gesien om die All Blacks van hul troon as die wêreld se voorste span af te stamp?

Ja en nee.

Alles was in die All Blacks se guns toe hulle die eerste toets, ook in Auckland,  met 30-15 gewen het.

Maar die keerpunt was toe Sonny Bill Williams in die 24ste minuut  van die tweede toets in Wellington nie sy arms gebruik het nie en die Leeus-vleuel, Anthony Watson, met sy skouer teen die kop getref het.

Rooi kaart.

Van toe af het dinge opdraande vir die All Blacks en afdraande vir die Leeus verloop.

Williams, en verskeie ander spelers, kom jare lank al daarmee weg. Hulle gebruik nie hul arms nie en hulle het dit van rugbyliga af laat oorspoel na die 15-mankode.

Dis hoekom wêreldrugby die reël aangepas het, en dis hoekom dit ʼn kruitvat was wat gewag het om te ontplof. Nie as nie, maar wanneer.

Kan Williams aanpas? Gaan die All Blacks met hom bly waag?

♦  Die Leeus het  214 punte in tien wedstryde aangeteken en 168 afgestaan. Hulle het twee wedstryde teen Superspanne (teen die Blues en Highlanders) verloor en met 31-elk teen die Hurricanes gelykop gespeel. Hulle het die eerste toets verloor, het in die tweede met 24-21 deurgeskraap en Saterdag se louere is met 15-elk gedeel.

ʼn Toerrekord van tien gespeel, vyf gewen, drie verloor en twee keer  gelykop.

Speler van die Toer: Maro Itoje.

Hoogtepunt van die Toer: Sean O’Brien se drie in die eerste toets toe Liam Williams met ʼn teenaanval begin het. Dit word as een van die beste drieë nog beskou.

Laagtepunt: Nederlae teen die Blues en Highlanders. Ook dat nie een Skotse speler die toetsopdrafspan kon haal nie.

Só het die Leeus gevaar –

Leeus 13, Nieu-Seelandse Provinsiale Barbarians 7.
Leeus 16, Blues 22
Leeus 12, Crusaders 3
Leeus 22, Highlanders 23
Leeus 32, Nieu-Seelandse Maori  10
Leeus 34, Chiefs 6
Eerste toets: Leeus 15, All Blacks 30
Leeus 31, Hurricanes 31
Tweede toets: Leeus 24, All Blacks 21
Derde toets: Leeus 15, All Blacks 15

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nico ·

Wim hoe het ons Suidkaapse seun gevaar? Nee ons weet nie want ons kan nie rykman TV bekostig nie en in verslae word daar ook niks genoem nie.

Jaybee ·

Wim, ek stem saam dat daar gebreke uitgewys is in die All Blacks se mondering maar hulle sal nie sommer afstand doen aan hulle posisie as die nr een span in die wêreld nie. Nico ek neem aan jy praat van CJ, hy is as plaas vervanger op gestuur en het volgens my hom goed van sy taak gekwyt. Hy het beslis nie die span in die steek gelaat nie.

Nico K ·

Dit bly vir my vreemd dat die All Blacks glad nie in die laaste 2 toetse (ek het nie die eerste een gesien nie) heeltyd skop rugby gespeel het en glad nie die hardloop rugby wat hul super spanne so goed doen nie. Dalk omdat dit nat velde was, wat nog meer ironies was want mens sou dink dat hulle meer gewoond is aan nat velde as ander lande.

vrikie ·

Die Barrett boeties wat nog teenstanders lang trane gaan laat huil het ongelukkig ook die AB die reeks gekos, behalwe natuurlik daardie franse paddaboutjie eter

WONDER ·

Al die All blacks moan oor dit wat nou vir hulle skeef geloop het, in plaas daarvan dat hulle eerder moet kyk na wat hulle skeef aanvang en oorgesien is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.