Wat gedurende Pro 14-wedstryde kan gebeur

Foto: Twitter.

Rugbyliefhebbers kan hul gemakstoele nadertrek vir Pro 14-aksie wat weer hierdie naweek hervat word.

Springbok-hardebaarde soos onder andere Damian de Allende en RG Snyman kan hul buiging vir Munster in ’n Ierse derby teen Leinster maak.

Die Black Lives Matter-beweging het egter gesorg dat dit wat vóór die afskop plaasvind, dikwels met groter belangstelling dopgehou word as die uiteindelike aksie op die veld.

Toe die Gallagher Premiership verlede week hervat is, kan min mense onthou dat Harlequins vir die Sale Sharks met 16–10 getroef het. Wat die meeste waarskynlik wél kan onthou, is die Sharks-spelers (onder wie agt Suid-Afrikaners) wat nie vooraf die knie ter ondersteuning van die BLM-beweging gebuig het nie.

Sedertdien het Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, Saru vir meer duidelikheid rakende die aangeleentheid gevra, terwyl spelers soos Billy Vunipola en ook kommentaar gelewer het.

Nou skuif die aandag na die Guinness Pro 14 waar verskeie wedstryde die naweek gespeel word. Organiseerders van die toernooi het ’n verklaring uitgereik oor wat presies vóór afskoptyd kan gebeur.

“Twee dinge sal plaasvind voordat elke wedstryd afskop. ’n Oomblik van stilte sal waargeneem word om die lewens wat aan die Covid-19-pandemie afgestaan is, te herdenk. Sodoende sal daar ook eer betoon word aan diegene wat die virus in die voorste linies beveg,” het die verklaring gelui.

Daarna sal ’n “Oomblik van Eenheid” waargeneem word om te wys dat rugby teen rassisme gekant is en om kernwaardes soos respek te beklemtoon.

“Die spelers sal gedurende hierdie oomblik in ’n sirkelformasie staan en het die vryheid om hulself op enige toepaslike wyse uit te druk.”

Die spelers en beamptes word dus nie verplig om die knie ter ondersteuning van die BLM-beweging te buig nie.

John Mulvihill, hoofafrigter van die Cardiff Blues, het gesê dat rassisme ’n belangrike onderwerp is om oor te gesels.

“Ons gaan ’n oomblik van stilte hê vir die mense wat hul lewe verloor het, en dan gaan ons iets rakende BLM doen.

“Maar vir ons is dit ’n bietjie meer as net dit; dit is basies rugby wat teen rassisme gekant is. Dit is iets waaraan ons vir die res van die seisoen – en selfs daarna – sal werk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.