Wat het daardie dag gebeur?

(Foto: Bidorbuy)

(Foto: Bidorbuy)

Ek wonder steeds hoe dit moontlik kon wees.

Toe die Wallabies Saterdag in Sydney met 42-8 deur die All Blacks in die eerste Rugbykampioenskap- en Bledisloetoets verfomfaai is, het ek aan dáárdie dag teruggedink.

Kom ons kyk eers na Saterdag se toets: die Wallabies kon nie in die vaste fasette meeding nie, hulle kon nie by die All Blacks se vinnige tempo byhou nie, hulle het te veel hanteerfoute begaan, hulle het swak verdedig.

Die afrigter Michael Cheika probeer vandeesweek die stukkies optel, hy is op soek na strooihalms, iets waaruit hy kan put vir Saterdag se tweede toets in Wellington.

Die Springbokke was in 1982 op die kruin van die golf: gaan kyk maar na daardie span, dit was byna dieselfde een wat in 1981 die All Blacks op eie bodem ore aangesit het, maar deur die Walliese skeidsregter Clive Norling van `n reeksoorwinning in die derde toets in Auckland beroof is.

Legendes soos Danie Gerber, Naas Botha, Ray Mordt en Carel du Plessis agterlangs. `n Vaste vyf waaroor enige afrigter droom, `n gesoute losvoorspelerkombinasie.

Die Bokke het, net soos die All Blacks Saterdag in Sydney, die eerste toets op Loftus Versfeld oorheers en met 50-18 teen die saamgeflanste Suid-Amerikaanse Jaguars gewen. Agt drieë deur Gerber (3), Ray Mordt (2) Carel en Willie du Plessis en Ockie Oosthuizen vertel van die oorheersing.

Die Jaguars kon nie in die vaste fasette meeding nie, hulle kon nie by die Bokke se vinnige tempo byhou nie, hulle het te veel hanteerfoute begaan, hulle het swak verdedig.

Die Bokke het dieselfde span vir die tweede toets in Bloemfontein behou, die Jaguars het sewe veranderings (verskeie daarvan was posisioneel) aangebring.

Die eindtelling was 21-12 in die Jaguars se guns.

Hoe was dit moontlik?

Só het die Bokspan in 1982 gelyk –

Johan Heunis, Ray Mordt, Danie Gerber, Willie du Plessis, Carel du Plessis, Naas Botha, Divan Serfontein;  Wynand Claassen (kaptein), Burger Geldenhuys, Rob Louw, Louis Moolman, Theuns Stofberg, Hempies du Toit, Willie Kahts, Ockie Oosthuizen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Die dag het Porta die Bokke gesink met ‘n vervyfde drie, 4 strafskoppe en ‘n skepskop.
Porta 21 Bokke 12 Gerber drie vervyf deur Botha wat ook met twee strafskoppe slaag.

‘n Vervyfde drie was (klink snaaks) 6 punte werd. ‘n Straf en skepskop drie punte.

Eienaardig dat die term ‘vervyf’ (drie + twee)bly vasteek het en daar nooit van ‘n ‘verses’ of ‘versewe’ gepraat word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.