Wat het die mislukte WB-bod gekos?

Noudat die stof gaan lê het oor die toekenning van die Wêreldbekertoernooi van 2023 aan Frankryk, is daar een vraag wat nog nie beantwoord is nie: Hoeveel het Suid-Afrika se (vierde) mislukte Wêreldbekerbod gekos?

Ja, Suid-Afrikaanse rugby is op sy knieë en het die Wêreldbekerbod broodnodig gehad om uit die finansiële knyptang te ontsnap en ja, hulle moes sekerlik daarin belê het.

Maar as daar geraap en geskraap word om op die rugbyveld te oorleef, as die Bokke in ekonomiese klas oorsee moet vlieg (Eben Etzebeth en Lood de Jager het hul eie sakke geskud om op te gradeer na sakeklas toe); as die wenner van die Curriebeker se Eerste Liga nie ʼn sent ontvang het nie; as die kleiner bonde aanstaande jaar R5 miljoen minder aan inkomste gaan verdien; as baie van die bonde bankrot en byna bankrot is en poste gesny, beamptes afgedank en spelers se kontrakte opgeskort gaan word, hoe gaan jy die miljoene regverdig wat die vierde keer aan ʼn bod bestee is?

Die Suid-Afrikaanse bod was glansryk en sonder enige ooglopende tekortkominge. Ons het die beste stadions en oefengeriewe, het vorige wêreldtoernooie in rugby, krieket en sokker suksesvol aangebied, het die beste lughawens en hotelle en ʼn regering wat die bod met miljoene onderskryf het (hoewel dieselfde regering Springbokrugby slegs ʼn paar maande gelede tot die rugbywildernis wou verban het).

Toe Wêreldrugby se oorsigkomitee boonop twee weke voor die finale stemming aangekondig het dat Suid-Afrika die voorkeurkandidaat is, is daar geglo dat niks kon verkeerd loop nie.

Rus op jou louere en betaal maar die prys!

Hoekom? Want net soos vanoggend se nuus, was Suider-Afrika ook op die voorblaaie en in die hooftrekke toe Wêreldrugby se voorsitter, Billy Beaumont, die koevert met Frankryk se naam daarin oopgemaak het.

Groot probleme in Zimbabwe, moorde, voortslepende kommissies van ondersoek na staatskaping, Eskom, Esidimeni en studente-oproer …

Dít terwyl Frankryk se afvaardiging uit spelers en oud-spelers soos Bernard Laporte, Sebastien Chabal, Frederic Michalak en Serge Simon bestaan het om vir oulaas  te koukus (vuil spel, is daar deur die SA afvaardiging gesê), het die SA afvaardiging onder meer uit adjunk-president Cyril Ramaphosa, die minister van sport, Thulas Nxesi, Mark Alexander, Jurie Roux en ʼn paar ander lede bestaan wat aan my onbekend was.

Soos Joel Stranksy tereg opgemerk het, dit is ʼn “old boys club”.

Ja, hy is heeltemal reg, dit is ‘n “old boys club” van rugbymense wat ʼn rugbybesluit geneem het.

Maar teen watter prys vir Suid-Afrika?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Stephanus ·

SA Rugby het self hierdie probleme veroorsaak met die dat hulle toelaat dat die regering aan hulle voorskryf. Kwotaspanne gaan veroorsaak dat die belangstelling in rugby drasties gaan krimp!!

Veritas ·

Stephanus die belangstelling in rugby het nie begin krimp nie, dit is laaankal daar verby. Neem net toeskouergetalle in oënskou en jy sal verbaas wees om te sien wat aangaan. Die ergste van alles is dat die swak bywoning op alle vlakke voorkom. Rugby, soos ons dit geken het, se dae is klaar getel. Danie Craven was nou nie my gunsteling persoon nie maar hy het jare terug al hierteen gewaarsku. Rugby is ‘n beroep en nie meer ‘n sport nie en diegene wat nie kans staan om die top te bereik nie, bevind homself in ‘n situasie waar daar nie juis meer iets soos amateurrugby bestaan nie. Klubs se ledetalle het so erg afgeneem dat van hulle moet saamsmelt om meer as twee spanne in die veld te kan stoot.

NEEWAT ·

AG ek gee nie om nie, solank ons dit net nie gekry het nie is ek gelukkig. Dit sou ons nog meer geld uit die sak gejaag het en die misdaadsituasie in SA sou dit in ‘n ramp omgeskakel het. SA moet nou sien dat hulle geliefde ANC nie die land kan bestuur en misdaad kan bekamp nie en dit gaan hulle nou begin kos. . rommelstatus .. geen wereldbeker .. so moet dit nou net aangaan totdat die regte mense in die regte plekke begin sit en die korruptes uitgeskuif word.

Willie ·

Afgesien van die lae kwaliteit van ons rugby, dink ek die groot probleem vir die rugby bonde is die feit dat hulle te veel personeel het wat van rugby leef. Daar is net eenvoudig te veel afrigters en beamptes vir elke span. Wat se bydrae maak al hierdie mense vir die ekonomiese groei van ons land? – Vermaak wat nie meer snaaks of ernstig is nie.

Veritas ·

Willie jy is doodreg. Die oorhoofse kostes is te hoog. Waar op aarde kry jy tot vyf afrigters per span? Voeg daarby die fiksheidsinstrukteur, fisioterapeut, spanbestuurder, dieetkundige ens. Ek is oortuig dat daar meer as vyftien personeellede per span is en almal moet betaal word. Die gevolg is hoër toegangsgelde wat weer laer kykersgetalle meebring. Die kleiner bonde kan nie hierby kers vashou nie en sodoende word die ongelyke speelvelde net groter. Al die kleiner klubs en provinsies ly hieronder en sodoende word rugby doodgewurg.

Frans C ·

Is dit maar nie ‘n geval van ‘n professionele sport wat deur amateurs bestuur word nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.