Wat het van Curwin Bosch geword?

Beauden Barrett – hy moet heelagter toe skuif, meen die ondersteuners. (Foto Facebook)

ʼn Groot debat het in Nieu-Seeland opgevlam oor of die Crusaders se losskakel, Richie Mo’unga, nie bo Beauden Barrett in die All Blacks se beginspan ingespan moet word nie.

Dit volg ná die 24-jarige Mo’unga se skittervertonings in vanjaar se Superreeks (bygesê, waar hy heeltyd agter ʼn Rolls Royce-pak gespeel het, soos die All Blacks-afrigter, Steve Hansen, dit gestel het).

Mo’unga was die argitek van die Crusaders se oorwinnings oor die Sharks in die kwarteindronde van die reeks toe hy sy tweestryd met Robert du Preez loshande gewen het. Hy het daarop voortgebou toe hy beter as Barrett in die halfeindstryd tussen die Crusaders en Hurricanes gevaar het en ook in die eindstryd toe hy die Lions se Elton Jantjies in die skadu gestel het.

Maar is hy al geweeg agter ʼn verloorpak? Hoe sal hy onder druk vaar?

Lui dit nie ʼn klokkie nie en herinner aan jare gelede toe die bestendige Piet Visagie en die vlugvoetige Jannie Barnard om die Springbokke se nommer10-trui meegeding het?

Daar is ure lank om die braaivleisvuur daaroor gestry.

Agter ʼn wenpak was Barnard vernietigend. Maar wat het in Nieu-Seeland in 1965 gebeur toe Barnard vir Keith Oxlee vervang het?

En wat van toe Naas Botha hom (onverklaarbaar) teen ʼn jong Henry Honiball moes bewys het? En toe daar tussen Joel Stransky en Hennie le Roux gekies moes word?

Mo’unga het baie talent. Die leemtes in sy spel word gaandeweg uitgeskakel namate sy loopbaan vorder, maar om nou al daaraan te dink om hom bo Barrett in te span, maak nie sin nie.

Daar word geskimp dat, as dít gebeur (en ek praat nou nie daarvan om Barrett so nou en dan ʼn ruskans te gee nie), Barrett na heelagter geskuif moet word. Dit beteken dat Ben Smith, waarskynlik die wêreld se beste heelagter, na vleuel sal moet skuif.

Moenie gaan krap waar dit nie jeuk nie …

Dis net soos toe Barrett jare moes wag vir Dan Carter om uit internasionale rugby te tree en vir Aaron Cruden om sy loopbaan in Frankryk voort te sit.

♦ Dit bring ʼn mens by die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, se planne om Damian Willemse vanjaar op heelagter te kies.

Willemse het baie talent en ek is seker dat Erasmus-hulle dit verder sal ontwikkel.

Op heelagter sal Willemse in baie toetse nie onder dieselfde druk as die losskakel wees nie en hy kan baie baat daarby vind.

Maar wat het dan van Curwin Bosch geword, wat ʼn seisoen of twee nog opgehemel is?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

bollie ·

Ek reken Pollard sal ‘n beter heelagter maak. Groot en sterk en behoort goed te doen onder die hoë bal. Willemse is ‘n losskakel, rats en vinnig van die merk af.

LHS ·

Ag asb. Willemse hoort nie eers in die groep te wees nie. Hoeveel jongelinge gaan nog deur die media en selfs sekere mense opgehemel word na een of twee wedstryde net om n seisoen of wat later of op die ashoop te beland of afgeskryf is deur beserings. Hoe de wetter wil Erasmus in kompetisie eksprimenteer of iemand heelagter kan speel of nie. Een ding doen Erasmus baie goed, hy verdien sy salaris deur en deur. Sy transformasie opdrag en finale uitwissing van die springbok, voer hy uitstekend uit en niemand lewer enige kommentaar nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.