Wat het van régte Curriebekerrugby geword?

Sbu Nkosi – krag,
vaart en voorgevoel (Facebook Sbu Nkosi – Barberton Bliss &’s photos)

Ai, waar is die dae van ware Curriebekerrugby tog!

Die oudste provinsiale kompetisie in die wêreld het Vrydagaand nog ʼn knou weg met die powere rugby wat die Sharks en Griekwas op Kingspark opgedis het.

Dit was slordig, ongestruktureerd en sou ouder garde soos Toy Dannhauser, Danie Gerber, Kevin de Klerk en Thys Lourens-hulle laat vrees het vir wat die afrigter die Maandag met hulle op die oefenveld sou aanvang.

Vir die rekord: die Sharks het met 41-3 gewen ná hulle rustyd met 17-3 voor was. Hulle het heelwat meer besit gehad, minder foute gemaak en hier en daar ʼn paar mooi bewegings aan die gang gekry en gehou. Hulle het ook vir die tweede wedstryd agtereenvolgend geen drie afgestaan nie, terwyl Griekwas se verdediging power was.

Curwin Bosch het wisselvallig pale toe geskop en was ook nie op sy beste nie; die Sharksstut Thomas du Toit en die losvoorspeler Dan du Preez was ysters en Kobus van Wyk was darem die naam Curriebekerspeler waardig, en Lukhanyo Am is op pad na sy beste.

Die groot uitblinker was egter die jong Sharksvleuel Sbu Nkosi. Hier kom ʼn werklike grote.

Die min kanse op die Superrugby-verhoog het al gewys Nkosi gaan dit tot heel bo maak, en hy het Vrydagaand indruk gemaak met sy werksoekery, het goed aangesluit en aan die ander kant gaan keer en twee drieë met sy sterk lopies gedruk.

Ondanks ʼn veel beter maar steeds middelmatige tweede helfte deur die Sharks, sal die reeds min toeskouers met dié gehalte rugby ook al hoe minder by Kingspark opdaag.

Puntemakers –

Sharks (17) 41: Drieë: Jeremy Ward, Sbu Nkosi 2, Jacques Vermeulen, Juan Schoeman, Cameron Wright . Doelskoppe: Curwin Bosch 3, Inny Radebe. Strafdoel: Bosch.
Griekwas (3) 3:  Strafdoel: George Whitehead. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hennie ·

Dis nie net by die Sharks wat die toeskouer getalle afgeneem het nie. Kyk maar gerus hoe dit vanaand op Loftus gaan lyk. Waar is die dae dat jy sou sukkel om ‘n kaartjie te kry vir ‘n wedstryd tussen N-Tvl en Transvaal? Hierdie eens gesogte primêre rugby kompetisie het sy glans totaal verloor. Daar is baie redes voor, maar die grootste sondebok vir hierdie jaar kan voor niemand anders as SARU se deur gelê word. Hoe beplan jy dat die eerste 3 wedstryde in die komp. saamval met die uitspeelrondtes van die Super kompetisie? Jy stuur ‘n duidelike boodskap uit dat geen SA span daarin sal speel nie. Die Sharks verloor met 35 punt teen die Cheetahs omdat hul in die kwarteind van die Super speel terwyl die Vrystaat al hul spelers beskikbaar het. Ek sê nie hulle sou andersins nie wen nie, maar 35 punte! Ek glo nie.
Die Leeus moet 25% van hul wedstryde in die kompetisie speel sonder hul super spelers. Hoe regverdig is dit? Aantal jare gelede is die Sprinbokke ook onttrek uit hierdie kompetisie. Ek vind dit deesdae ‘n afgewaterde niks seggende kompetisie met geen glans en vind dit selfs moeilik om op TV daarna te kyk!

Veritas ·

Stem saam Hennie. Saru het die Curriebeker kompetisie afgewater deur ontslae te raak van die Paul Roos afdeling. Curriebekerrugby was eens die trots van SA rugby maar vandag sien ons, weens die afskaffing van die Paul Roos trofee, waar twee spanne wat nie op dieselfde veld hoort nie, teen mekaar speel. Vir geeneen van dié spanne is daar plesier of nut in nie. Die swakker spanne, wat hoofsaaklik bestaan uit amateurs en diegene wat speel vir die genot daarvan, het geen kans om teen die groot, professionele unies te kompeteer nie, wat nog van wen. ‘n Mens sou dink dat die besluitnemers darem die vermoë sou hê om te kon insien dat niemand hieby baat nie. Dit wil voorkom asof dit nie meer gaan oor die genot van rugby nie maar oor die finansiële implikasies daarvan. Die leë stadions, veral by klubwedstryde, is bewys daarvan dat Danie Craven reg was toe hy gesê het dat geldrugby die spel sou doodmaak. Dalk het dit tyd geword dat álle rugbywedstryde geboikot moet word sodat SARU kan besin oor Rugby as SPORT. Amateurrugby en dié van die professionele spelers hoort nie op dieselfde veld nie.

Veritas ·

Ja-nee, as die kop begin raas is dit tyd om op te hou skryf. Nie Paul Roos nie, Sport Pienaar.

Hennie ·

Toe SARU nog iemand gehad het wat omgegee het, sou dit GEENSINS gebeur dat daar ‘n finaal van die Super Kompetisie om 16:00 op Ellispark plaasvind en terwyl die wedtryd aan die gang is, word ‘n Curriebeker wedstryd tussen die Bulle en Leeus geskeduleer op Loftus. Hoe eenvoudig kan mens dan nou wees? Ek sien die CC wedstryd se geskeduleerde tyd is nou uitgestel na 19:00. Geen toeskouers sal na die Super finaal deur ry na Loftus om sy CC span dar te gaan ondersteun.
Die Bulle is ook versoek om die twee CC wedstryde tussen die 2 spanne om te ruil, maw dat vandag se wedstryd op Ellispark as voorwedstryd sou dien vir die finaal. Dis van die hand gewys.
Hoe kortsigtig is die mense wat in beheer is van rugbysake?

Oom Piet ·

Uit die kommentare hierbo gelewer kom dit duidelik navore dat daar teveel wedstryde gedurende die seisoen plaasvind , met die gevolg die spelers en toeskouers word moeg vir die getal wedstryde en gehalte van die spel. As die wedstryde verminder word sal die kompetisie tussen die spanne verbeter en die toeskouer getalle sal drasties toeneem.

Frans C ·

Daar is ‘n duidelike rede waarom die Curriebeker as kompetisie in die slag gebly het na die koms van Superrugby.Dit was van die begin af duidelik dat plaaslike provinsiale spanne
sou sukkel teen NZ en Aussies se streeksspanne.

Dit het gelei tot die versterking van plaaslike provinsiale spanne deur aankoop en kontraktering uit voedingsbron provinsies. Nou is dit eenmaal so dat as spelers eers Superrugby gespeel het,baie van hulle traag is om na hul oorspronklike provinsie terug te keer en ontvang hul as goed is ook dikwels kontrakte van die superrugbybond wat beheer oor die span uitoefen.

Toe die Superrugbyspanne gevestig raak en ‘n mate van sukses begin behaal het ‘n speler
uittog van die swakker superrugbybonde soos die Cheetahs en die Leeus na die meer suksesvolle superrugbybonde begin plaasvind.

Dink maar aan spelers soos Habana en Fourie, vleuel en senter van die Leeus. Habana het Springbok by die Leeus geword en het eiehandig ‘n Superbeker vir die Bulls teen die Sharks in 2007 gewen terwyl die Sharks tot twee minute voor die einde nog voor was.

Fourie is met groot lawaai weg na die Stormers omdat hy na wat berig is-‘nie langer vir ‘n verloorspan wou speel nie’Dit is waarom die Leeus se prestasie die afgelope twee jaar so merkwaardig maak, want dit is gedoen met ‘n aantal spelers wat nie goed genoeg geag is deur hul bonde nie.

Omdat wenspanne borge en geld lok,lei kleiner unies en die Curriebeker daaronder.

Frans C ·

in die berig word melding gemaak van:”Die groot uitblinker was egter die jong Sharksvleuel Sbu Nkosi. Hier kom ʼn werklike grote.”. Hierdie ou is in Baberton gebore,het in Johannesburg
akool gegaan Het vir die Pumas onder 16 en Leeus onder 18 spanne gespeel.

Na hoërskool is het hy verhuis na Durban.Soos Habana ( ou Oos Transvaal )kom die toekomstige ster ook uit ‘n klein rugbybond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.