Wat is die verskil tussen die Aotearoa-reeks en Superrugby?

Rugby het weer in Nieu-Seeland afgeskop. Foto: Twitter.

Wanneer jy elke dag ʼn Marmite-toebroodjie in jou kosblik gekry het en die volgende dag met ʼn grondboontjiebotter-en-stroopbroodjie verras is, het jy die res van die dag met ʼn groot glimlag rondgeloop.

Dis presies wat in Nieu-Seeland gebeur het toe die Superrugby Aotearoa-reeks die afgelope naweek van stapel gestuur is.

Aotearoa is die Maori-naam vir Nieu-Seeland, die land van die lang wit wolk, ʼn uitdrukking wat die eerste keer in 1916 in Engelse geskrifte gebruik is.

Eie, eg aan Nieu-Seeland, basta met die res.

Wat was die verskil, want verlede jaar het die Blues ook teen die Hurricanes gespeel, die Highlanders het die Chiefs ook gepak, net soos die jaar daarvoor, die jaar daarvoor en die jaar daarvoor, soos ʼn destydse langspeelplaat wat vasgehaak het.

Die groot verskil is dat die toeskouers keelvol vir Superrugby geraak het, dat hulle wou terugkeer na “normaal”.

Ja, die Covid-19-pandemie het ʼn baie groot rol gespeel, want die Nieu-Seelanders was ook maande lank weerloos, vol vrees en ingehok.

Die naweek se rugby was ʼn uitlaatklep, hulle wou wegbreek uit die greep van die koronavirus.

Toe die Super10-reeks in 1995 bekend gestel is en in 1996 afgeskop het, was dit ʼn wenresep.

Duisende toeskouers het na dié wedstryde gestroom en dit was lipaflek-lekker televisie.

Maar toe Sanzaar begin krap het waar dit nie gejeuk het nie om die TV-uitsaaiers (borge) tevrede te stel en om belangstelling te probeer behou, het die belangstelling juis begin kwyn.

Ligapunte vir ʼn loslootjie?

Die boonste spanne wat nie vir die uitspeelrondes kwalifiseer nie?

Die insluiting van die amperse Argentynse nasionale span en die Japanse Sunwolves gelaai met Suid-Afrikaners, Nieu-Seelanders en Australiërs?

Die Sunwolves kon slegs nege van hul 67 wedstryde wen en hoeveel Sunwolves het Japan se Wêreldbekergroep gehaal?

Een van hul tuisvelde was boonop Singapoer, waar daar selde meer as 5 000 toeskouers in versengende hitte was.

Nou is die horlosie teruggedraai, toe Auckland destyds Nieu-Seelandse rugby oorheers het, toe daar tien spelers van Auckland in Nieu-Seeland se Wêreldbekerspan van 1987 was.

Australië gaan binnekort dieselfde roete volg, terugkeer na die dae toe Queensland die land se rugby oorheers het.

Suid-Afrika gaan dan volg met ʼn reeks bestaande uit die vier Superspanne, asook die Cheetahs, Southern Kings en dalk ook die Pumas en Griekwas.

Maar hoe lank gaan dit hou?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Die Wolf ·

Die kompetisies moes al lankal die superreeks vervang het. Dit het in n klug ontaard. Die wenners van elke land speel dan uit om n kampioen te bepaal. Net jammer die ander twee lande is alreeds myle voor, terwyl ons nog politiek speel.

Alexander ·

Plaaslike wedstryde het nog altyd meer toeskouers gelok, hier en oorsee. Superrugby is uitgedien. Die Curriebeker moet weer die vernaamste kompetisie word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.