Wat is dit met Kings se dissipline en die Cheetahs se lynstaansiekte?

Wat is dit met die Southern Kings se dissipline? En met die ingooiwerk by die lynstane waar die Cheetahs Sondag in die voetspore van die Westelike Provinsie en die Springbokke gevolg het?

Daar was vier geelkaarte vir die Kings, en die swak lynstaaningooie en ook hanteerwerk in Bloemfontein het die Kings en die Cheetahs onderskeidelik oorwinnings in die Pro14-reeks teen die verdedigende kampioen Leinster en Munster gekos.

Wéér het Suid-Afrika se twee Pro14-spanne albei in die een helfte uitgeblink maar moes hulle ná ʼn swak eerste helfte te veel opvangwerk ná rustyd doen.

Die Kings het ná ʼn goeie terugvegpoging en vier geel kaarte met 31-38 in die Madibaz-stadion teen Leinster verloor en die Cheetahs is eers teen die einde met 26-30 deur Munster ondergekry.

♦ Wat is fout met die Kings? Wil hulle nie leer nie, of begryp die spelers nie dat swak dissipline hul spanmaats kos nie?

Benewens vier geelkaarte het hulle ook 12 strafskoppe afgestaan. Drie van hul spelers het in die eerste helfte geelkaarte gekry met ʼn vierde wat kort voor die einde gevolg het.

Die gevolg was twee drieë in die tydperk toe Stephan Greeff, boonop ná ʼn strafdrie, van die veld was met Schalk Ferreira wat ook met ʼn geel kaart vier minute van sy tyd langs die kantlyn saam met Greeff van die veld was.

Skaars was Greeff weer terug op die veld, toe sluit Tienie Burger by Ferreira aan.

Die Kings moes dus agt minute sonder twee spelers (Greef en Ferreira) klaarkom en twee minute later was daar weer twee (Ferreira en Burger) gelyktydig langs die kantlyn vir nog vier minute. Twee drieë is in dié tyd afgestaan en nog een toe Burger alleen van die veld was.

Met die deurmekaarspul het Leinster ʼn stewige voorsprong van 33-12 met rustyd gehad.

In die laaste tien minute het die Kings oplaas ʼn bietjie rugby kon speel, ondanks Berton Klaassen wat ook vier minute voor die einde die trekpas gekry het.

♦ Vir die Cheetahs was daar twee periodes van 12 minute in die tweede helfte wat hul terugvegpoging gekelder getel het.

Hulle was met 5-22 agter toe hulle tussen die 51ste en 63ste minute drie keer gaan druk en 21 punte bygevoeg het om met 26-22 voor te loop. Maar toe laat die Cheetahs vir Munster toe om in die laaste 12 minute te gaan druk en ook met ʼn strafdoel die oorwinning te bevestig.

Die was egter nie die Vrystaters se beste vertoning van die seisoen nie. Hul hanteerwerk was nie so suiwer as wat dit moes nie, hul lynstane het gelol, en swak opsies het hulle ook gekos.

Maar, al was Leinster en Munster sonder hul toetsspelers verswak, is daar nou by die twee Suid-Afrikaanse spanne hopelik die wete dat hulle teen die oorsese grotes kán wen. Dis net daardie dissipline wat nie by die Kings wil regkom nie en afronding wat hier en daar by albei ons spanne ontbreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.