Wat is Rassie Erasmus se toekoms-opsies?

Rassie Erasmus (AP Photo/Christophe Ena)

Rassie Erasmus laat hom nie deur baie mense voorskryf nie, indien enige.

As speler, kaptein en afrigter was hy nog altyd die voorbok, die denker wat die leiding wou en sou neem.

Hy was soms omstrede, maar die meesterbrein agter die Springbokke se welslae by die Wêreldbekertoernooi in 2019 in Japan.

Hy is en was nog altyd ʼn tree voor die res, besig om te beplan, om nuwe idees op die proef te stel.

Dit is hoekom sy toekomsplanne van net een persoon sal afhang: homself.

Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van rugby, se kontrak verstryk eers in 2025, maar hy het ʼn klousule laat inbou wat hom in staat stel om die pad te kan vat wanneer hy iewers anders ’n beter aanbod sou kry.

Maar noudat Jurie Roux nie meer Saru se uitvoerende hoof is nie en Jacques Nienaber aangekondig het dat hy ná vanjaar se Wêreldbekertoernooi in Frankryk na Dublin verhuis waar hy ʼn lid van Leinster se afrigtingspan gaan word, is Erasmus dalk ook tussen twee vure.

Veronderstel Saru se uitvoerende komitee keur dit goed (dis nou ná Erasmus se aanbeveling) om een van Mzwandile Stick, Deon Davids (twee huidige assistentafrigters) of Bafana Nhleko (die Junior Springbok‑afrigter) as hoofafrigter te betrek, watter rol sal Erasmus steeds by die span speel.

Aan die ander kant, wat is sy opsies?

Hy kan weliswaar as direkteur van rugby aanbly, maar soos ek hom ken, wil hy afrig.

Daar is heelwat bespiegelinge dat Erasmus deur verskeie klubs in Engeland genader is, ook deur die Engelse rugbybase.

As Engeland, onder Steve Borthwick, nie aan die verwagtinge by die Wêreldbekertoernooi voldoen nie (ek kan nie insien dat Engeland die toernooi sal wen nie), kan dit die weg vir Erasmus baan.

Dalk kan hy besluit om die leisels by een van die voorste Engelse klubs te neem.

Die opsie om in Japan af te rig, kan dalk ook sy besluit beïnvloed.

Intussen is Erasmus volstoom besig om die Springbokke se opmars na die WB-toernooi in Frankryk te beplan.

Waar die Springbokke se bestuurspan in Japan uit 17 lede bestaan het, gaan daar volgens Rapport vanjaar 21 beamptes saam Frankryk toe.

Tot dusver is 19 mense reeds betrek, onder meer Erasmus en vier afrigters, ʼn dokter, fisioterapeute, masseuses, ʼn bedryfsbestuurder,  ʼn werklading‑ en welsynbestuurder, ʼn mediabestuurder, ʼn dieetkundige, ʼn tegniese ontleder, ʼn krag- en kondisioneringsafrigter en ʼn hoof van atletiese vertonings, terwyl ʼn blaser-breier en ʼn adviseur oor reëls en dissipline ook nog in Erasmus se visier is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Met 21 beamptes en 33 spelers is geld nie ‘n probleem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.