Wat ʼn droewige naweek!

Dis nie net op toetsvlak nie, waar die Springbokke Saterdagaand in Washington skande teen Wallis gemaak het, maar op Superrugbyvlak lyk sake ewe beroerd hoewel nie een Suid-Afrikaanse span die naweek in aksie was nie.

Die sooibrand sal Maandag teen etenstyd op sy ergste wees wanneer Wêreldrugby sy jongste ranglyste vir toetsspanne bekend maak.

Dis byna seker dat Wallis bo die Springbokke in die sesde posisie sal  inskuif, terwyl dit al hoe meer begin lyk of net een Suid-Afrikaanse span in die uitspeelrondes van die Superreeks sal meeding.

Dit volg nadat die Rebels Saterdag byna ongesiens die Blues met 20-10 in Auckland geklop het, die Waratahs die Reds met 52-41 in Brisbane verslaan het en die Brumbies Sondagoggend in Canberra die Sunwolves met 41-31 geklop het, terwyl die Suid-Afrikaanse spanne almal ʼn ruskans gehad het. Die Highlanders het ook teen die Hurricanes verras en die Crusaders het soos verwag is ná ʼn effense skrik teen die Chiefs gewen.

Soos sake nou staan, kan twee Australiese spanne die uitspeelrondes haal, vier uit Nieu-Seeland, die Lions (Suid-Afrika) en dalk ook nog die Jaguares.

Dít terwyl die Sharks, Stormers en Bulls televisie sal moet kyk.

Met net drie rondes oor, is dit baie slegte nuus vir Suid-Afrikaanse rugby.

Die Lions (40 punte) is seker van ‘n plek in die uitspeelrondes, net soos die Crusaders (54) en dalk ook die Waratahs (35) omdat hulle eerste in hul afdelings sal eindig.

Die laaste vyf plekke sal volgens die algehele puntelys bepaal word.

Die Rebels (34) is op ʼn opwaartse kurwe en het die gaping al hoe groter begin rek tussen hulle en die Sharks (28), Stormers (25) en Bulls (24).

Dis hoekom die opgewondenheid oor Rassie Erasmus se Springbokspan eintlik ʼn rookskerm is vir die agteruitgang van Suid-Afrikaanse rugby, want dit sal darem ʼn yslike klap in die gesig wees as twee Aussie-spanne tot die uitspeelrondes deurdring en net een span uit Suid-Afrika dit regkry.

Die naweek se uitslae ‒
Highlanders 30 Hurricanes 14; Rebels 20 Blues 10; Waratahs 52 Reds 41; Crusaders 34 Chiefs 20, Brumbies 41 Sunwolves 31.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sam ·

Ja, nog iets wat ons moe(t)(s) prysgee. Volksmoord is ‘n swaar ding, dit tref mens so diep in die hard en die reperkussies is legio.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.