Wat ʼn kombinasie: Stransky en Le Roux

rugbypale

Argieffoto.

Dit is soms ʼn waagstuk om ʼn losskakel in toetsrugby binnesenter toe te skuif, maar as dit werk, kan dit ʼn meesterskuif wees.

Soos in 1995 toe Kitch Christie vir Hennie le Roux in die no. 12-trui gekies het vir die openingswedstryd van die Wêreldbekertoernooi teen Australië, die halfeindstryd teen Frankryk en ook in die eindstryd teen die All Blacks, met Joel Stransky as losskakel.

Verskeie ander Bokspanne het dit voor 1995 ook gedoen, terwyl Henry Honiball in agt van sy 34 toetse senter gespeel het (meestal langs Jannie de Beer) en Braam van Straaten in agt van sy 21 toetse ook die binnesenter was en 13 keer die losskakel.

Rassie Erasmus het ʼn paar keer vir Handré Pollard op losskakel gekies en dan na binnesenter geskuif wanneer hy Elton Jantjies opgestuur het.

Maar wanneer ʼn senter losskakel toe skuif, werk dit nie altyd nie.

Soos in die geval van Ian Kirkpatrick wat in 11 van sy 13 toetse die binnesenter was en twee keer in die no. 10-trui opgedraf het.

Kirkpatrick was in 1953 in sy eerste toets teen die Wallabies die losskakel, maar die Bokke het die toets met 14-18 verloor.

Kirkpatrick was in sy laaste toets in 1958 teen die Franse weer die losskakel. Toe het die Springbokke met 3-3 gelykop gespeel.

Ironies genoeg het die senter Jeremy Nel in die tweede toets (in 1958 teen die Franse) vir Kirkpatrick vervang en is die Bokke met 9-5 geklop.

Die rol van binnesenters het baie verander en hedendaagse afrigters verkies giftige stormramme soos André Esterhuizen en Damian de Allende om oor die voordeellyn te kom.

* Ek onthou hoe opgewonde ʼn kollega van my in die Baai was toe Le Roux, wat in Grahamstad gebore is en aan Graeme College skoolgegaan het is, sy buiging vir die Oostelike Provinsie gemaak het.

Hy was ʼn vlugvoetige losskakel wat die spel beheer het, hy kon breek en pale toe skop en was nie bang was om te duik of om kontak te maak nie.

Toe Le Roux na Johannesburg verhuis, was hy binne ʼn seisoen of twee die argitek van die destydse Transvaalse agterlyn.

Hy het sy toetsbuiging in 1993 teen Argentinië gemaak en in sy eerste sewe toetse losskakel gespeel.

Maar toe skuif Christie hom in die toets teen die Argentynse Pumas in 1994 binnesenter toe met Stransky die losskakel.

Die saadjie was geplant, want Le Roux en Stransky was die ideale wenkombinasie.

Ná die Wêreldbekertoernooi het Le Roux nog tien toetse senter langs Stransky en Honiball gespeel.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.