Wat nou met Jaco Kriel wat nie teen die All Blacks kan speel nie?

Jaco Kriel – ook knap met bal in die hand. (Foto GB Jordaan)

Hulle sê mos ʼn dag is lank in rugby – en veral in Suid-Afrikaanse rugby.

Die nuus is Dinsdagoggend bekend gemaak: Die skouerbesering wat die woelwater-flank Jaco Kriel in Saterdag se toets in die Rugbykampioenskap teen die Wallabies in Perth opgedoen het, is só ernstig dat hy op pad terug is Suid-Afrika toe.

Hoe dan nou gemaak om hom te vervang vir Saterdag se toets teen die All Blacks?

Volgens Sanzaar se amptelike statistiek het Kriel (38) en die vaskopstut Coenie Oosthuizen (32) onderskeidelik die meeste en die tweede meeste duikslae tot dusver in die Rugbykampioenskap uitgevoer. Nie een ander Bok kon by 25 uitkom nie en dít moet ʼn bron van kommer wees.

Oosthuizen is reeds terug in Suid-Afrika nadat hy sy arm teen die Wallabies gebreek het en Kriel se besering kan die Bokke se toerkomitee slapelose nagte gee, want jy moet die wêreld se beste span sonder jou twee voorste verdedigers pak.

Een van Ruan Dreyer of Trevor Nyakane sal na alle waarskynlikheid in Oosthuizen se plek speel en hulle bied jou heeltemal ander vaardighede. Dreyer kom uit die skrumskool van vaskopstutte, soos Hempies du Toit en Tommie Laubscher.

Nyakane hou daarvan om met bal te hardloop.

Kriel was nog net in vier van sy 11 toetse in die opdrafspan, maar hy het hom reeds gevestig, want die Bokke het stadigaan wegbeweeg van groot losvoorspelers soos Willem Alberts en in ʼn mate  Francois Louw, om plek te maak vir die veel beweegliker Kiel wat jare lank só vir die Lions speel.

As ek reg tussen die lyne lees oorweeg die Bokkeurders om Pieter-Steph du Toit flank toe skuif en dan met Eben Etzebeth en Lood te Jager die All Blacks as slotpaar te pak. Ek meen dit is  ‘n fout, want Du Toit was Saterdag die speler van die wedstryd op slot. Hy is reeds een of twee keer as toekantflank ingespan sonder te veel sukses.

Of hulle kan die klipharde Jean-Luc du Preez in Kriel se plek kies. Dit sal die All Blacks se beplanning ʼn klein bietjie makliker maak, want Du Preez ken net een pad: vorentoe. Wanneer hy die bal het, moet hy so vinnig moontlik agter die voordeellyn gekeer word.

Dit wys jou net: ʼn Jaar of wat gelede het Kriel nog die duiksakke in oefeninge vasgehou.

Nou kan die Bokke kwalik sonder hom klaarkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

B-man ·

Hulle gaan sukkel sonder hierdie staatmaker Saterdag. Hoop hy herstel volkome en dat hy nog lank vir die Springbokke sal speel.

Speedguard ·

Jy kan die beste speler ooit wees maar as hulle jou uit posissie speel is jy net so blootgestel, Pieter Steff is nie ‘n flank nie, kyk gerus na al die wedstryde waar hulle hom gebruik het as ‘n flank ,het hulle hom elke keer geteiken en was hul suksesvol, dit maak hom geensins ‘n slegte speler nie inteendeel ek dink hy is die mees opformste slot in die land, maar is hy nie ‘n flank nie, almal spesialiseer in hul posissie ! Saru en die keurders gaan hom ongelukkig onder druk plaas !

Josua Keys ·

Kwagga Smit, Kwagga Smit, Kwagga Smit, Kwagga Smit, Kwagga Smit!!!!!!!! Moes lankal op die vliegtuig gewees het hy en Jaco Kriel is die beste vlanke in SA en hy kan no 8 ook speel en Casim vlank.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.