Wat sal geldknyp van die Engelse klubs oplewer?

Die vraag ontstaan of Engelse klubrugby werklik die supersalarisse kan bekostig waarmee hulle so geredelik die Suide se talent stroop.

Het hulle straks hul oënskynlik bultende beursies ooreis? Kan dit dalk daartoe lei dat die salarisse afplat?

Saam-saam met die nuus dat Johann Rupert se Remgro sy 50%-aandeel in die klub Saracens verkoop het, kom die berig dat slegs een van die 12 Premierligaklubs teen ʼn wins bedryf word, en dat twee van hulle in die mark is.

Aangehaalde syfers bied sommer ook ʼn nuwe perspektief op die verliese wat die sukkelende Suid-Afrikaanse rugbytoneel kniehalter.

Die SA Rugbyunie (Saru) en die bonde se bedryfsrekeninge is kleingeld vergeleke by die Engelse klubs s’n, en dis g’n wonder die Suidelike Halfrond-lande kan nie hul spelers behou nie.

Volgens ʼn tabel van The Times (Londen) wat op Twitter versprei word, is Exeter met £1,4 miljoen (ongeveer R24 miljoen) die enigste klub wat ʼn wins toon. Die verliese wissel van Gloucester se £477 000 (sowat R8 miljoen) tot Worcester se £4 miljoen (nagenoeg R68 miljoen) – laasgenoemde ʼn raps meer as dubbel Saru se jongste verlies van R33,3 miljoen.

Exeter is die verdedigende kampioen; die Springbok Johann Ackermann is deesdae Gloucester se hoofafrigter en by Worcester is die gewese Bokhulpafrigter Alan Solomons die rugbydiretkeur, en moet die Cheetahs se Rory Duncan nou sake gaan regruk.

Worcester, die agteros in die liga, en London Irish, die naasagteros, is die klubs wat glo te koop is.

Saracens, waarin Rupert nege jaar gelede ʼn halwe aandeel gekoop het, se verlies word op The Times-tabel as £2,68 miljoen (oor die R45 miljoen) aangedui – die vierde grootste tussen die 11 onwinsgewende klubs.

Dίt is die geval, ondanks die klub se puik prestasies op die rugbyveld. Saracens hou die Europese klubs se Kampioenebeker die afgelope twee seisoene. Hy het sedert die 2010-’11-seisoen die Engelse liga drie keer gewen, en is tans tweede ná Exeter op die punteleer.

Is daar dan werklik soveel geld uit rugby te maak as die indruk wat soms geskep word, of wag daar dalk ʼn prikkie op die ballon?

Nigel Wray, ʼn Engelse eiendomsmagnaat wat Saracens voorheen ten volle besit het, het Rupert se aandeel teruggekoop, word berig.

Hy ontken in ʼn verklaring dat hy die klub wil verkoop, en sê hy soek bloot na ʼn vennoot om Remgro te vervang.

Die Springbokke Neil de Kock en Schalk Brits het elk oor die 200 wedstryde vir Saracens gespeel. Ander spelers met Suid-Afrikaanse bande soos Brad Barritt (die huidige kaptein), Ernst Joubert, Petrus du Plessis, Cobus Visagie, Mouritz Botha en Jacques Burger het elk oor die honderd wedstryde gespeel.

Brits het Sondag ʼn week gelede sy 50ste wedstryd in die reeks om die Europese Kampioenebeker gespeel, maar aangekondig dat hy aan die einde van die seisoen uit die spel tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.