Wat sal ʼn mens wys word uit die Baabaas-wedstryd?

Daar is op die oog af maar min op die spel in die feeswedstryd tussen die Barbarians en Argentynse Poemas Saterdagmiddag op Twickenham in Londen, behalwe dat dit die aansien van die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, kan knou.

Erasmus se wenrekord van 50 persent in vanjaar se 14 toetse is nie waarop hy gehoop het nie en as die Barbarians, wat hy afrig, ook verloor, sal daar baie rooi gesigte wees.

Dit is dus nie om dowe neute nie dat Erasmus 13 Springbokspelers wat op die huidige jaareindtoer op toer was, nader getrek het.

Hy kon nie een van die spelers wat in Europa speel, soos Willie le Roux, Cheslin Kolbe, Faf de Klerk, Vincent Koch en Francois Louw kies nie, want dis nie ʼn toetswedstryd nie en die spelers kon dus nie vrygestel word nie. Dan het ʼn paar ander Bokke reeds na hul klubs in Japan teruggekeer.

Maar Trevor Nyakane, Lood de Jager en Schalk Brits, wat op toer die duiksakke vasgehou het, kry kans om die spinnerakke af te skud en terselfdertyd hul beursies te laat bult.

Erasmus het seker gemaak dat die kern van die span uit oorblywende toets-Bokke bestaan, soos Damian de Allende, Aphiwe Dyantyi, Handré Pollard, Siya Kolisi en Pieter-Steph du Toit, terwyl Malcolm Marx, Steven Kitshoff, Jesse Kriel en Elton Jantjies vroeg van die plaasvervangersbank af opgestuur sal word.

Erasmus neem die wedstryd ernstig op, en dis sekerlik hoekom die Baabaas ʼn paar keer saam geoefen het ‒ iets wat tot redelik onlangs ongehoord in Barbarian-tradisie was.

Maar dis soos ons Erasmus leer ken het. Dis hoekom hy enige wedstryd ernstig benader. Hy haat dit om te verloor en wil nie in ʼn strik trap dat die Poemas, wat redelik uitgedun is, die oorhand kry nie.

Sal ʼn mens enigiets wys word uit die wedstryd?

Nie veel nie, hoewel dit ʼn fees van hardlooprugby en drieë sal oplewer. Sonder te veel druk sal die spelers gedy en wys dat hulle die nodige vaardighede het om af te rond en om kanse te skep.

Maar oor ʼn paar dae kan dit alles vergete wees.

Die spanne
Barbarians

15 Jack Debreczeni (Honda Heat), 14 Tommaso Benvenuti (Benetton en Italië), 13 Tom English (Rebels en Australië), 12 Damian de Allende (Stormers en Suid-Afrika), 11 Aphiwe Dyantyi (Lions en Suid-Afrika), 10 Handré Pollard (Bulls & Suid-Afrika), 9 Leon Fukofuka (Auckland en Tonga), 8 Juan Manuel Leguizamon (Jaguares en Argentinië), 7 Pieter-Steph du Toit (Stormers en Suid-Afrika), 6 Siya Kolisi (Stormers en Suid-Afrika), 5 Lood de Jager (Bulls en Suid-Afrika), 4 Luke Jones (Bordeaux Begles & Australië), 3 Trevor Nyakane (Bulls & Suid-Afrika), 2 Schalk Brits (Suid-Afrika), 1 Wyatt Crockett (Crusaders en Nieu-Seeland, kaptein). Bank: 16 Malcolm Marx (Lions en Suid-Afrika), 17 Steven Kitshoff (Stormers en Suid-Afrika), 18 Anton Peikrishvili (Cardiff Blues en Georgië), 19 Sikhumbuzo Notshe (Stormers & Suid-Afrika), Jordan Taufua (Crusaders), 21 Frank Lomani (Rebels en Fidji), 22 Jesse Kriel (Bulls en Suid-Afrika), 23 Elton Jantjies (Lions en Suid-Afrika).

Argentinië
15 Juan Cruz Mallia, 14 Sebastian Cancelliere, 13 Matias Orlando, 12 Bautista Ezcurra, 11 Ramiro Moyano, 10 Joaquin Diaz Bonilla, 9 Martin Landajo, 8 Rodrigo Bruni, 7 Tomas Lezana, 6 Pablo Matera (kaptein), 5 Matias Alemanno, 4 Guido Petti, 3 Santiago Medrano, 2 Julian Montoya, 1 Juan Pablo Zeiss. Bank: 16 Agustin Creevy, 17 Mayco Vivas, 18 Lucio Sordoni, 19 Tomas Lavanini, 20 Santiago Grondona, 21 Tomas Cubelli, 22 Jeronimo de la Fuente, 23 Santiago Carreras.

Afskop: 16:30.
Skeidsregter: John Lacey (Ierland).
Assistent-skeidsregters: Andrew Brace (Ierland), Ben Whitehouse (Wallis).
TV-skeidsregter: Andrew McMenemy (Skotland).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.