Wat van die Southern Kings?

Andy Marinos (Foto: espn.co.uk)

Andy Marinos (Foto: espn.co.uk)

Sanzaar se uitvoerende hoof, Andy Marinos, het die naweek baie te sê gehad oor die Sunwolves se wel en wee in in vanjaar se Superrugbyreeks, maar nou wag ons om te hoor wat hy van die Southern Kings se aanslag dink.

Die Sunwolves het Saterdag in Singapoer die eerste keer in dié eiland-stadstaat Superrugby gespeel toe hulle met  32-31 deur die Cheetahs geklop is.

Die groot vraag is of rugby deur Singapoer se bevolking van sowat 5,5 miljoen (bestaande uit  74,1% Chinese, 13,4% Maleisiërs en 9.2% Indiërs) omarm sal word. Die nasionale stadion kan met die bestes in die wêreld vergelyk, maar waar was die toeskouers?

Daar is duisende buitelanders wat in Singapoer woon en werk, maar hou hulle van rugby? Dit het nie Saterdag so gelyk nie.

Volgens Marinos kan dinge eers swakker met die Sunwolves gaan voordat dit beter sal word, veral nadat hul voorbereiding in die wiele gery is met die bedanking van Eddie Jones (wat die span sou afrig), `n gekibbel om `n mededingende groep bymekaar te kry en ‘n baie kort voorseisoen.

Marinos het voor Saterdag se wedstryd aan `n klein groepie plaaslike joernaliste wat die wedstryd bygewoon het, gesê Sanzaar kon meer gedoen het om seker te maak dat die Sunwolves slaggereed sou wees.

Maar wat van die Southern Kings?

Hy het bygevoeg dat Sanzaar die Sunwolves al die nodige bystand sal verleen wat hulle nodig sal hê.

Maar wat van die Southern Kings?

Marinos het bygevoeg dat alle aandag verlede jaar op die suksesvolste Wêreldbekertoernooi in die geskiedenis in Engeland was en dat die voorbereiding en harde werk vir die Superreeks ‘n bietjie agterweë gelaat is.

Die Sunwolves vaar glad nie sleg nie en speel ondernemende rugby, hoewel hulle leemtes en gebreke `n paar keer oopgevlek is.

Hulle het dusver 44 punte aangeteken en 58 afgestaan (`n punteverskil van -14). Hulle het vyf drieë gedruk en net agt afgestaan. In Tokio teen die Leeus was die stadion byna stampvol. Hulle groot toets is nou om weg van die huis te speel waar hul diepte getoets sal word.

Maar wat van die Southern Kings?

In twee wedstryde het hulle 31 punte aangeteken en 101 afgestaan, Hulle het `n negatiewe punteverskil van 69, het net drie drieë gedruk en reeds 13 afgestaan, hoewel daar uitasem aan ons vertel is dat Saru se rondgaande afrigtingseenheid goeie werk op die verdediging doen.

Ek lig my hoed vir die spelers, wat in uiters moeilike omstadinghede voor `n kleinerige skare die gety probeer swaai.

Weens die Cheeky Watson-debakel(s) en die binnegevegte in Suid-Afrikaanse rugby, het die Sourthern Kings byna geen kans om te oorleef nie.

Hopelik sal Sanzaar ook alle nodige bystand aan hulle verleen, die spelers en ondersteuners verdien dit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rupert Ashford ·

Nee ou maat die Kings sal die laaste SA franchise wees wat val. Daarvoor sal die politieke meesters sorg. Of hulle ooit rugby gespeel gaan kry is eerder die vraag…

Kaspaas ·

Los die Kings uit hulle is goed vir my Superbru. Elke naweek stem ek vir hulle om te verloor met 20 punte en nog al die pad reg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.