Wat van Rassie se prestasieklousule?

Rassie Erasmus – prestasieklousule? (Foto twitter munsterrugby)

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het baie meer vrae as antwoorde wanneer ʼn besluit geneem (bekend gemaak word) word oor die toekoms van Allister Coetzee as Springbokafrigter.

As dit suiwer oor prestasie gaan, dan kan Coetzee nie oorleef nie, want ʼn wenpersentasie van 44% oor twee seisoene is in enige rugbytaal nie goed genoeg nie.

Nie hier nie, nie in Nieu-Seeland nie, nie in Australië nie en ook nie in Engeland nie.

As ʼn mens reg tussen die lyne lees, is die besluit reeds geneem om hom af te dank en met Rassie Erasmus te vervang, maar die besluit sal eers vroeg aanstaande jaar bekend gemaak word om seker te maak dat aan al die vereistes van die Arbeidswet voldoen word.

Wat kommerwekkend is, is dat daar al hoe meer bespiegel word dat daar nie ʼn prestasieklousule in Coetzee se kontrak is nie.

Hy is verlede jaar oorspronklik tot aan die einde van 2019 aangestel en dit was juis die reddingsboei wat hom bo water gehou het nadat die Bokke verlede jaar geploeter het.

Die rugbybase het dit vanjaar duidelik gemaak dat hulle ʼn wenpersentasie van 65% vereis, maar staan dit in sy kontrak?

As Erasmus die leisels neem, gaan daar ʼn prestasieklousule in sy kontrak wees?

Hy is Saru se direkteur van afrigting en soos ek verstaan, in beheer van en belas met rugby op alle vlakke.

Onthou gerus dat die Bokke aanstaande jaar in Junie in drie toetse teen Engeland speel, gevolg deur die Rugbykampioenskap en dan weer ʼn Europese toer aan die einde van die jaar.

Dis nag!

Soos ek Erasmus ken, beplan hy al maande lank uiters noukeurig hoe om Springbokrugby weer ʼn krag te maak.

Maar almal weet dat daar dieperliggende probleme is, soos die spelers se basiese vaardighede, die regte spelpatroon, inmenging van buite, spelers wat oorsee speel en nog nie in 30 toetse gespeel het nie, en om die regte afrigtingspan te betrek.

Alles dui daarop dat Pieter de Villiers die nuwe skrumafrigter (in Matthew Proudfoot) se plek sal wees, dat Jacques Nienaber na die verdediging sal omsien en dat Franco Smith straks die valbyl as agterlynafrigter sal vryspring. Ek weet ook nie of Erasmus vir Brendan Venter as konsultant sal behou nie.

Gaan dié afrigtingspan vir almal aanvaarbaar wees?

Hier gaan ons alweer!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jakkalas ·

Dit is juis met die agterlyn waar dit lol. Is Franco rerig die beste wat ons het of is daar iemand anders wat spelers kan identifiseer en ontwikkel? Ek het my bedenkinge oor Franco en Brendan sal eerder op sy paktyk konsentreer. Hy is egter eerstens ‘n dokter…..

Veritas ·

Moenie té veel hoop op Erasmus plaas nie. Hy gaan nie toegelaat word om af te wyk van die ‘transformasie’ vereistes nie, m.a.w. die hoeveelheid kwotaspelers gaan geensins verminder nie. Die uitvloed van begaafde jong spelers na Europese en Oosterse klubs gaan nie gestuit word alvorens die beste spelers nie gekies word nie. Wie sal, as hy weet hy is die beste in sy posisie, en word nie gekies om Suid-Afrika te verteenwoordig nie, nie maar sy heil in ander lande gaan soek nie ? Die waarde van Bokkleure is besig om vinnig af te neem, soveel-so dat begaafde skolespelers al begin somme maak van hoeveel hulle by watter klub kan verdien en gladnie eers dink aan Springbokkleure nie. Die Springbok is dood en hy is nie Lazarus wat weer opgewek gaan word nie

Bollie ·

Ons sal ons oorsese spelers moet kies om met die beste saam te gesels. Ons het nie dieselfde kwaliteit in diepte as NZ om net plaaslike spelers te kies nie.

Jaco Weber ·

As die prestasievereiste vir SA 68% wen is en dit is soortgelyk vir ander rugbylande, wie mag ooit verloor? Ons sal dadelik toetse moet begin speel teen klubspanne sodat die wiskunde kan werk ?

Niklaas ·

Anders as NZ het ons werlik min diepte. Kyk na die reserwes wat NZ All Blacks span bestuur opstuur. Elke slag is hy nog een wereldklas speler. Dis ook so met Hurricanes , Chiefs , Crusaders ens. En ons reserwes ? Gewoonlik ‘n kwota knaap en dan sukkel die arme SA span. Politieke inmenging gaan sake steeds moeilik vir Rassie en sy helpers

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.